Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Phillip Snyman, sê om die Sewes-wêreldkampioenskap in Los Angeles te kon wen, bewys die span is terug na waar hy moet wees. Die Blitsbokke het eers groep-oorwinnings behaal oor Frankryk, Brittanje en Argentinië, Nieu-Seeland daarna in die halfeind verslaan en Spanje toe 19-5 oorrompel in die eindstryd. Snyman sê die span het dwarsdeur die toernooi ‘n verstommende vertoning gelewer:
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het oorheers om die Byron Nelson-toernooi in Texas te wen vir sy eerste sege vanjaar. Die Amerikaner het ‘n laaste ronde van agt-onder-baansyfer-63 aangeteken om op 31 onder klaar te maak – agt houe voor die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen – vir sy 14de PGA-toertitel. Van Rooyen het Scheffler se 63 geëwenaar om op 23 onder baansyfer te eindig, drie houe voor die Amerikaner Sam Stevens. Scheffler was vol lof vir Van Rooyen:
# Motorsport: Die 15de Simola-heuwelren in die Wes-Kaap het die lewe geëis van die ervare deelnemer Pieter Joubert wat in ‘n ongeluk dood is. Dit het tydens sy eerste wedren op die tweede dag plaasgevind. Volgens die organiseerders van die geleentheid, Knysna Speed Festival, het Joubert beheer oor sy voertuig verloor op die hoëspoed-opdraande deel, as gevolg van ‘n vermeende meganiese fout. Hy is op die toneel dood verklaar en ‘n volledige ondersoek word ingestel.
Nog motorsport: Oscar Piastri van McLaren het van die vierde wegspringplek daarin geslaag om die Miami Grand Prix te wen, sy derde agtereenvolgende oorwinning. Die Australiër se spanmaat, Lando Norris, het van ‘n sesde plek herstel na ‘n voorval met Max Verstappen van Red Bull om tweede te eindig. George Russell van Mercedes was derde, gevolg deur Verstappen en Alex Albon van Williams. Piastri, wat nou ‘n voorsprong van 16 punte bo Norris het boaan die bestuurderskampioenskap, glo hy kan steeds verbeter:
# En tennis: Die Noorweër Casper Ruud het die Madridse Ope gewen vir sy eerste ATP Meesters-Een-duisend-titel. Die 26-jarige Ruud het ‘n opdraande stryd gehad om die Brit Jack Draper te klop en daarmee sy grootste titel ooit in te palm. ‘n Oorwinning vir Draper sou vir hom sy tweede Meesters-Een-duisend titel besorg het ná Indian Wells in Maart. Ruud skuif nou na die sewende plek op die wêreldranglys. Hy sê dit was ‘n ongelooflike gevoel om een van sy doelwitte te bereik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….