Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Mai 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Haashim Pead het twee drieë gedruk en die Junior Springbokke het die Argentyne met 36-25 verslaan in die eerste ronde van die Onder 20-Rugbykampioenskap by die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha. Suid-Afrika was teen rustyd agter met 20-15, maar het teruggeveg en die sege behaal. Intussen het Sid Harvey in die doodsnikke ‘n drie verdoel en Australië en die verdedigende kampioene van Nieu-Seeland se aanvangswedstryd het met 29-elk gelykop geëindig. Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se veerkragtigheid en leierskap geloof:
# Boks: Suid-Afrika se Kevin Lerena het sy Wêreldboksraad-superligswaargewigtitel behou deur Serhiy Radchenko van Oekraïne in die derde van 12 rondes in die SunBet Arena in Pretoria te klop. Dit is die eerste WBR-wêreldtitelgeveg in Suid-Afrika. Die superligswaargewig-afdeling is tussen die kruisgewig- en swaargewigafdelings om kleiner swaargewigboksers te akkommodeer. Lerena sê hy is verheug oor die oorwinning en dat hy op eie bodem geskiedenis kon maak:
# Sokker: Die Engelse Sokkervereniging het bevestig dat transgender-vroue van 1 Junie af nie meer in die vroue-afdeling in Engeland kan speel nie. Dit volg op die Britse Hooggeregshof se uitspraak dat die wetlike definisie van ‘n vrou gegrond is op biologiese geslag. Die FA sê hulle verstaan dat hierdie besluit moeilik sal wees vir mense wat bloot die spel wil speel waarvan hulle hou in die geslag waarmee hulle identifiseer. Ongeveer 20 transgender-vroue het hierdie seisoen in Engelse grondvlakwedstryde gespeel.
# Motorsport: Lando Norris van McLaren hou vol hy is nie bekommerd dat sy spanmaat, Oscar Piastri, die voortou geneem het as nuwe leier in die bestuurderskampioenskap nie. Die Brit het die seisoen se eerste wedren in Australië gewen, terwyl Piastri daarna drie oorwinnings behaal het. Aan die vooraand van hierdie naweek se Miami Grand Prix, is die Australiër nou tien punte voor in die kampioenskap. Norris sê die span werk hard om hom meer gemaklik met die motor te maak:
# En laastens Krieket: Die 14-jarige Vaibhav Suryavanshi sal hulp nodig hê om die oornag-roem te verwerk en sy volle potensiaal te bereik. Sy afrigter by die Rajasthan Royals, Rahul Dravid, sê dit sou onmoontlik wees om Suryavanshi totaal teen die openbare aandag te beskerm, maar hy sal ‘n manier moet vind om die aandag met die hulp van mense na aan hom te verwerk. Suryavanshi het in Maandag se Indiese Premierliga-wedstryd teen die Gujarat Titans 101 lopies van 38 balle geslaan. Dit is die tweede vinnigste honderdtal in die IPL-geskiedenis en hy word reeds as Indiese krieket se nuwe superster beskou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….