Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: ‘n Onafhanklike paneel het ʼn wangedragbevinding teen die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie se oudpresident, Zelt Marais, gehandhaaf. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Marais in 2024 vir 10 jaar geskors nadat hy op agt aanklagte van wangedrag weens verbreking van die SARU-gedragskode skuldig bevind is. Die paneel het bevind die straf wat die regsbeampte opgelê het, was goed gemotiveerd en het Marais se totale gebrek aan berou in ag geneem. Marais mag tot Oktober 2034 geen amp in rugby beklee nie.
Nog rugbynuus: Ierland se voormalige hulpafrigter, Les Kiss, is aangewys as Australië se volgende hoofafrigter om Joe Schmidt in 2026 te vervang. Die 60-jarige Kiss wat van 2013 tot 2015 Schmidt se assistent by Ierland was, het ʼn tweejaarkontrak geteken. Schmidt bly aan in sy rol vir die komende toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus en die Rugbykampioenskap. Kiss sal die Wallabies se vyfde afrigter in sewe jaar wees en sê hy voel geëerd oor die geleentheid:
# Tennis: Die Argentyn, Francisco Cerundolo, het die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland verslaan om die Madrid Ope se kwarteindronde te haal. Die negende gekeurde Rus, Daniil Medvedev, is deur na die laaste agt nadat hy met die Amerikaner, Brandon Nakashima, afgereken het. Casper Ruud van Noorweë het die Amerikaner, Taylor Fritz geklop. In die vroueafdeling is die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, deur na die kwarteindronde ná ʼn sege oor Peyton Stearns van Amerika.
Nog tennisnuus: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic het sonder rede uit die Italiaanse Ope onttrek. Die Serwiër het nog elke seisoen sedert 2007 in Rome deelgeneem en die toernooi ses keer gewen. Djokovic wat nie op sy beste is nie, is onlangs vroeg reeds uit twee kleibaantoernooie, Monte Carlo en Madrid geboender. Die Franse Ope, wat die wêreld se nommer-vyf al drie keer gewen het, is die tweede Grand Slam en begin op 26 Mei.
# En laastens sokker: Real Madrid se verdediger, Antonio Rudiger, is vir ses wedstryde geskors omdat hy ʼn voorwerp na die skeidsregter gegooi het toe sy span die Copa del Rey-eindstryd teen Barcelona verloor het. Rudiger en sy spanmaat, Lucas Vazquez, het rooikaarte gekry vir hul reaksie toe Kylian Mbappé kort voor die eindfluitjie geblaas het, vir vuilspel gestraf is. Vazquez is vir twee wedstryde geskors vir sy besware teen die beamptes. Rudiger sal nie deur die skorsing geraak word nie omdat hy Dinsdag ʼn knie-operasie ondergaan het en dis nie bekend wanneer hy weer sal speel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….