Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Protea-vrouekaptein, Laura Wolvaardt sê hulle is vol vertroue voor die Driehoekige Eendag-reeks teen Sri Lanka en Indië in Colombo. Daar is drie nuwelinge in die groep: die 17-jarige paaltjiewagter-kolwer Karabo Meso, en die veelsydige draaiers Seshnie Naidu en Miané Smit. Suid-Afrika se openingswedstryd is vandag teen Indië. Wolvaardt sê hulle het goeie voorbereiding gedoen, veral om gewoond te raak aan die toestande en die hitte.
# Krieket: Die Internasionale Kriekeraad het die Engelse span se kaptein Ben Stokes se versoek verwerp vir die hersiening van strafpunte wat opgelê word indien boulbeurtkoerse nie behaal word nie. Dit volg nadat Engeland en Nieu-Seeland verlede Desember in Christchurch met drie Wêreldtoetskampioenskap-punte gestraf is en al hulle spelers 15-persent van hulle wedstrydfooie moes inboet. Die IKR se raad het die bestaande reëls behou wat boetes en punte-aftrekkings op spanne oplê wat nie teen ‘n gemiddelde van 15 boulbeurte per uur in die Wêreldtoetskampioenskap in Junie boul nie.
# Krieket: Die 14-jarige Vaibhav Suryavanshi het geskitter in die Indiese Premierliga-kragmeting waar Rajasthan Royals die Gujarat Titans met agt paaltjies verpletter het. Gujarat het 209 vir vier op die telbord geplaas. In antwoord daarop het Suryavanshi die tweede vinnigste honderdtal in IPL-geskiedenis behaal en die jongste speler geword wat ‘n T20-honderdtal aanteken. Hy is uitgeboul op 101 van 38 balle en Rajasthan het die teiken bereik met 25 balle en agt paaltjies wat oorbly. Hierdie sege hou Rajasthan se skrale hoop lewend om die uitklopfase te haal.
# Rugby: Springbok-slot RG Snyman oefen weer voluit in aanloop tot Leinster se halfeindwedstryd Saterdag teen Northampton Saints in die Kampioenebeker. Die Wêreldbeker-wenner het twee weke gelede ʼn beenbesering opgedoen in die kragmeting teen Ulster. Leinster se hoofafrigter, Leo Cullen, sê Snyman is beskikbaar nadat hy van die besering herstel het. Ierland se internasionale voorspeler, Ryan Baird, is ná ʼn besering ook weer gereed vir aksie nadat hy die naweek se wedstryd sonder probleme voltooi het.
# En laastens nog rugbynuus: Lee Blackett en Byron McGuigan sal by Steve Borthwick se Engelse afrigtingspan aansluit vir die komende toer na Argentinië en die VSA in Julie. Blackett vervang Richard Wigglesworth terwyl hy as hulpafrigter by die Britse en Ierse Leeus in Australië aan diens is. McGuigan sal saam met Joe El-Abd as hulpverdedigingsafrigter werk. Borthwick sê beide Blackett en McGuigan het ‘n ingesteldheid en benadering tot hul afrigting wat baie ooreenstem met hoe hy wil hê die span moet aanhou speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….