Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin op hierdie Vrydag met rugby: Die Kampioenebeker word hierdie naweek voortgesit en die Bulle speel môre teen die Bristol Bears in die Engelse stad, terwyl die Stormers tuis in Kaapstad teen Sale Sharks te staan kom. Volgende naweek is die Bulle terug in Pretoria teen Bordeaux-Begles (Bordou Bêhgli) en die Stormers speel in Parys teen Stade Francais. Die Bulle is tans derde in Groep Een nadat hulle een van hulle vorige wedstryde gewen en een verloor het. Die Stormers is vierde in Groep Vier, ook met een oorwinning en een nederlaag.
Nog rugby: Die Britse en Ierse Leeus se uitvoerende hoof, Ben Calveley, sê hulle het nie ‘n beleid wat verhoed dat enige iemand gekies word nie. Dit het die weg gebaan vir spelers soos Henry Arundell, Joe Marchant en Owen Farrell. Volgens Engeland en Ierland se huidige kiesbeleide mag net spelers wat klubrugby in die land speel, vir die toetsspan gekies word. Farrell word verbind met ʼn skuif na Racing (Rassieng) 92 in Frankryk, en kwalifiseer dus nie om vir Engeland gekies te word nie. Calveley sê ʼn speler se peil sal die enigste oorweging wees om gekies te word.
# Vervolgens, krieket: Die uitvoerende hoof van Yorkshire (Jork-shir) Krieket, Stephen Vaughan, het die besluit verdedig om die omstrede konsortium onder leiding van Colin Graves toe te laat om die klub oor te neem in die lig van sy benarde finansiële posisie. Die klub is tydens Graves se vorige termyn as voorsitter by Yorkshire van 2012 tot 2015 beboet omdat hy nie teen die sistemiese gebruik van diskriminerende of rassistiese taal opgetree het nie. Vaughan het aan die BBC gesê uit meer as 350 moontlike beleggers was Graves-hulle se aanbod die enigste haalbare opsie:
# Volgende aan die beurt is tennis: Novak Djokovic van Serwië en die Spanjaard Carlos Alcaraz staan albei ʼn kans om by die Australiese Ope weg te stap as die wêreld se nommer een. Die verdedigende kampioen, Djokovic, het tans ʼn effense voorsprong van 200 punte bo die 20-jarige Alcaraz. Die Spanjaard het geen punte om te verdedig nie nadat hy die Australiese Ope verlede jaar weens ʼn besering misgeloop het. Die Rus Daniil (Danniel) Medvedev het ook ʼn kans om na die Australiese Ope weer nommer een in die wêreld te wees, maar hy sal die titel moet wen en hoop nie Djokovic of Alcaraz haal die halfeindronde nie.
En, ons sluit af met nog tennis: Djokovic kan in die derde ronde van die Australiese Ope kragte meet met ʼn voormalige wêreld nommer-een, Andy Murray van Skotland. Die Serwiër mik na sy 11de titel in die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar. Djokovic kom in die eerste ronde in Melbourne teen ʼn kwalifiseerder te staan terwyl Murray Sondag teen die 30ste gekeurde Argentyn Tomás Martín Etcheverry speel. Die toernooi word die eerste keer oor 15 dae gespeel in ʼn poging om die aantal wedstryde wat in die vroeë oggendure afgehandel word, te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….