Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-heelagter Willie le Roux en flank, Marco van Staden, is terug in die Bulle se groep wat vanaand die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors, in die Verenigde Rugbykampioenskap in Skotland takel. Le Roux, wat verlede maand ‘n klein operasie ondergaan het, is op die bank terwyl Van Staden op nommer agt begin nadat hy verlede naweek se wedstryd teen Munster misgeloop het. Suid-Afrika se Onder-20-slot, Jacobus Grobbelaar, is gereed om sy buiging van die bank te maak. Die Bulle is derde op die VRK-punteleer, vier punte agter Glasgow wat tweede is.
# Atletiek: Die naelloper Gift Leotlela het die mans 100-meter titel verower op Suid-Afrika se senior kampioenskap in Potchefstroom. Hy het die wêreld-junior-kampioen en Olimpiese silwermedaljewenner Bayanda Walaza met slegs 0,01-sekonde geklop en in 9,99-sekondes klaargemaak. Walaza was tweede op presies 10 sekondes, en Benjamin Richardson derde in 10,05-sekondes. Leotlela en Walaza het albei nou gekwalifiseer vir die 100-meter wedloop op die Wêreld-Atletiekkampioenskap in Tokio in September.
# Padwedlope: Die Keniaanse driedubbele Olimpiese-kampioen Faith Kipyegon gaan op 26 Junie in Parys, Frankryk, probeer om die eerste vrou te word wat ’n myl in onder vier minute hardloop. Dit maak deel uit van Nike se Breaking4-projek, wat die handelsmerk se vorige Breaking2-projek met wêreldkampioen Eliud Kipchoge navolg. Die vise-president van Nike se sportnavorsingslaboratorium, Amy Jones Vaterlaus, sê Kipyegon sal die modernste hardloopskoene dra en manlike pasaangeërs gebruik tydens die poging. Sy sê die wedloop is daarop gemik om te inspireer en vroue-langafstandhardloop te herdefinieer.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, hoop om fiks te wees om sy Franse Ope-titel te verdedig. Die Spanjaard het gister aan sy tuistoernooi in Madrid onttrek weens ‘n dyspier- en ‘n liesbesering wat hy opgedoen het tydens sy nederlaag teen Holger Rune van Denemarke in die eindstryd van die Barcelona Ope. Alcaraz sê hy sal volgende week verdere mediese toetse ondergaan en sal dan weet hoe lank hy buite aksie sal wees. Die Franse Ope, die kleibaan Grand Slam-toernooi, begin die 25ste van volgende maand in Parys.
# En motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, is opgewonde oor die naweek se Spaanse Grand Prix op sy tuisbaan in Jerez. Die jaer van Ducati Lenovo vertoon hierdie seisoen indrukwekkend en het drie van die eerste vier wedrenne gewen. Hy is voor op die punteleer – 17 punte voor sy jonger broer, Alex. Márquez het al drie keer in Jerez gewen, maar sê dis net so belangrik soos enige ander wedren en vereis deeglike voorbereiding:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….