Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Suid-Afrika se beste talent word vandag tentoongestel op Atletiek Suid-Afrika se senior baan- en veldkampioenskap in Potchefstroom. ‘n Opwindende stryd word verwag in die 100-meter vir mans, waar die junior wêreldkampioen en Olimpiese silwermedalje-wenner, Bayanda Walaza, teen atlete soos Wayde van Niekerk en Benjamin Richardson te staan sal kom. Die nasionale titelhouer in die 100-meter vir vroue, Viwe Jingqi, sal meeding met die tiener Hannah Hope Vermaak, wat haar onlangs geklop het. Die binnenshuise wêreldkampioen, Prudence Sekgodiso, sal aan die 800-meter deelneem.
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê hy het 31 spelers wat fiks en gereed is om te speel. Die span het begin met sy voorbereiding vir die Onder-20 Rugbykampioenskap wat volgende week op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha afskop. Die tweede uitgawe van die Suidelike Halfrond-toernooi bring die beste jong sterre van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië bymekaar. Foote is tevrede met die verloop van die voorbereiding:
# Sokker: Mamelodi Sundowns kom môre in Kaïro teen die Egiptiese span Al Ahly te staan in die tweede wedstryd van hul CAF Kampioeneliga-halfeindstryd. Die eerste wedstryd in Pretoria het sonder doelle gelykop geëindig. Sundowns se hoofafrigter, Miguel Cardoso, sê hulle behoort in staat te wees om te wen ondanks die moelike omstandighede. Die tuisspan se hoofafrigter, Marcel Koller, glo sy span kan die taak in die Egiptiese hoofstad afhandel nadat hulle Downs nie toegelaat het om die wedstryd op Loftus te beheer nie.
# Motorsport: Die wêreldbeheerliggaam, F-I-A, het die Amerikaanse motormaatskappy General Motors formeel goedgekeur as ‘n enjinverskaffer vir Formule Een vanaf 2029. Dit beteken dat Cadillac, wat volgende jaar die eerste keer deelneem, Ferrari-enjins sal gebruik tot General Motors se enjins amptelik bekragtig is. Die sport sal dus vanaf 2029 ses verskillende enjinverskaffers hê. Die ander is Ferrari, Mercedes, Honda, Red Bull Powertrains-Ford en Audi.
# En padwedlope: ’n Nuwe wêreldrekord is Sondag in die vooruitsig in die Londense Marathon. Die huidige rekord is vroeër die maand in die Paryse Marathon opgestel toe 56-duisend-950 atlete die wedloop klaargemaak het, terwyl meer as 55-duisend atlete in verlede jaar se New Yorkse Marathon gehardloop het. Sondag se roete begin by Greenwichpark en eindig op die Londense Mall net verby Buckingham-paleis. Langs die pad kan drawwers ander beroemde bakens soos die Toringbrug en Big Ben in die Britse hoofstad bewonder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….