Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Stormers se Springbok-voorspeler, Deon Fourie, se toekoms is in die weegskaal na ‘n ernstige besering tydens die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met Connacht. Fourie is ná net enkele minute hinkend af van die veld. Die Stormers se afrigter, John Dobson, sê die 38-jarige Fourie het skynbaar sy skeenbeen gebreek, wat hom die res van die jaar op die krukkelys kan hou. Fourie het ná ‘n vorige langtermyn-besering aan Dobson gesê hy wil nie sy loopbaan eindig deur op ‘n gholfkarretjie van die veld geneem te word nie.
# Motorsport: McLaren se Australiese jaer, Oscar Piastri, het sy Britse spanmaat, Lando Norris, verbygesteek op die Formule Een-punteleer nadat hy die naweek die Saoedi-Arabiese Grand Prix gewen het. Dit was die 24-jarige Piastri se derde oorwinning dié seisoen. Hy het tans 99 punte en Norris 89. Red Bull se wêreldkampioen, Max Verstappen van Nederland, is derde op die punteleer nadat hy tweede geëindig het in Jedda, met Charles Leclerc van Monaco wat die derde plek op die podium ingeneem het vir Ferrari. Norris was vierde.
# Sokker: Burnley en Leeds is vir die volgende seisoen outomaties deur na die Engelse Premierliga. Kaptein Josh Brownhill se twee doele in die eerste helfte het bygedra dat Burnley vir Sheffield United 2-1 verslaan om die Clarets se onmiddellike terugkeer na die Premierliga te verseker. Leeds het Stoke City met 6-0 verpletter om na die top-geledere terug te keer nadat hulle twee seisoene op relegasie moes staatmaak. Die twee spanne het 94 punte elk en die derde geplaaste Sheffield United, op pad na die uitspeelrondes, kan nie meer een van die twee inhaal nie.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het opnuut respek gekry vir sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, tydens Europa se moordende kleibaanseisoen. Die wêreld-nommer-twee het teen die Deen Holger Rune verloor in die eindstryd van die Bacelona-ope nadat hy verlede week die Monte-Carlo-meesterstoernooi gewen het. Alcaraz gaan ook dié week aan nog ‘n toernooi in sy vaderland deelneem – die Madridse Ope. Die kleibaanseisoen sluit af met die Franse Ope, wat Nadal ‘n rekord-14 keer gewen het. Alcaraz sê dis moeilik om binne dae by ‘n volgende toernooi aan te pas.
# En ten slotte: Die wêreld se mees bekroonde gimnas, Simone Biles van Amerika, is op die Laureus-wêreldsporttoekennings in Madrid aangewys as Sportvrou van die Jaar, terwyl die Sweedse paalspringer, Mondo Duplantis, as Sportman van die Jaar bekroon is. Barcelona se sokkerspeler, Lamine Yamal, het die toekenning vir Deurbraak van die Jaar ontvang, terwyl die Spaanse sokkerspan Real Madrid aangewys is as span van die jaar. Die swemmer, Yuyan Jiang, spog met die toekenning vir Sportvrou met ‘n Gestremdheid. Die 22-malige Grand Slam-tenniskampioen, Rafael Nadal, is met die Laureus-sportikoon-toekenning vereer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….