Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met padwedlope: Kaapstad se mees ikoniese wedloop, die Twee Oseane-marathon, se einde is moontlik in sig. Dit volg nadat die Stad Kaapstad sy ondersteuning onttrek het weens permit-oortredings. Die metro het twee permitte uitgereik vir die wedlope van die vyfde en sesde van die maand: een vir 14-duisend atlete vir die ultra-marathon oor 56-kilometer, en een vir 17-duisend vir die halfmarathon oor 21-kilometer. Volgens die metro het die organiseerders 20-duisend-600 atlete toegelaat vir die ultra-marathon en 17-duisend-677 vir die halfmarathon. Die organiseerders sê hulle raadpleeg hul prokureurs.
# Rugby: Kaptein Nolusindiso Booi maak Saterdag geskiedenis wanneer sy die eerste Springbok-vrouespeler word wat in 50 toetse uitgedraf het. Suid-Afrika speel teen Spanje in Elche in hul eerste toets van die seisoen. Booi behaal dié prestasie nadat sy 15 jaar gelede, in 2010, haar buiging gemaak het. Prestasie-afrigter Swys de Bruin sê Booi is ‘n goeie voorbeeld vir almal wat by vrouerugby betrokke is:
# Motorsport: Die MotoGP-kampioen, Jorge Martin, kan vir nog drie maande buite aksie wees nadat sy seisoen verder ontwrig is tydens die afgelope naweek se Grand Prix in Katar. Dit was die Spanjaard se eerste wedren vanjaar nadat hy drie keer beseer is tydens voorseisoense oefeninge, maar hy het van sy motorfiets geval en die Italianer Fabio Giannantonio het oor hom gery. Dit het gelei tot ‘n platgevalde long en elf gebreekte ribbes. Dokters het die renjaer van Aprilia beveel om twee weke in die Midde-Ooste te bly voor hy huis toe gaan.
# Statebondspele: Sewe lande het belangstelling bevestig om die byeenkoms in 2030 of 2034 aan te bied, wat vrese besweer dat die eeu-oue kompetisie gaan eindig ná volgende jaar se Spele in Glasgow. Die Skotse stad het verlede jaar oorgeneem nadat die Australiese deelstaat Victoria om finansiële redes as gasheer onttrek het. Glasgow se aanbod van ‘n afgeskaalde geleentheid het volgens berigte ander belangstelling gelok danksy die verminderde koste. Die aanbiedings sal die volgende vyf maande bestudeer word, en die voorkeur-bieër vir 2030 behoort in November aangekondig te word.
# En die Internasionale Skietkuns-federasie het die terugkeer van die sport op 2028 se Spele in Los Angeles verwelkom. Die federasie sê dit sal skyfskiet insluit op ’n tydelike binnenshuise baan in Long Beach, en haelgeweer-items in El Monte – albei binne Los Angeles-distrik. Die president van die federasie, Luciano Rossi, het die besluit geprys en die belangrikheid beklemtoon dat atlete in die hoof-Olimpiese ervaring ingeskakel moet word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….