Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha in die Oos-Kaap is volgende maand gasheer vir vanjaar se Onder 20-Rugbykampioenskap. Die tweede toernooi vir die Suidelike Halfrond bring die beste jong sterre van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië byeen. Australië het verlede jaar die eerste toernooi aangebied, waar Nieu-Seeland Suid-Afrika in die eindstryd verslaan het om die titel in te palm. Die junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê die toernooi is noodsaaklik vir hulle voorbereiding vir Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap in Italië in Julie.
Nog rugbynuus: Ierland het aangekondig dat die unie se vier provinsies vanaf Augustus volgende jaar 40-persent tot nasionale spelers se kontrakte sal moet bydra. Dis tans 30-persent. Dit sal die grootste uitwerking op Leinster hê, wat die meeste nasionaal-gekontrakteerde spelers het. Die Ierse Rugbyvoetbalunie sê die fondse wat deur die verhoging ingebring word, sal in provinsiale spelerontwikkelingstrome belê word. Die unie sê die verandering sal verseker dat die model billik en finansieel volhoubaar vir almal bly.
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het nog inligting bekendgemaak oor ‘n nuwe toernooi met gemengde gholf-spanne wat op 2028 se Spele in Los Angeles sal deelneem. Elke land mag net een span inskryf wat bestaan uit een man en een vrou wat reeds vir die individuele Olimpiese gholfkompetisie gekwalifiseer het. Die toernooi sal oor 36 putjies plaasvind. Die byvoeging van die gemengde span-toernooi is die eerste Olimpiese gholfspan-kompetisie sedert 1904 se Spele in St Louis, Missouri.
# Sokker: Verskeie beheerliggame verskil van die Suid-Amerikaanse federasie, Conmebol, oor die uitbreiding van 2030 se Wêreldbekertoernooi vir mans na 64 spanne. Die beheerliggaam van Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese Eilande, Concacaf, UEFA in Europa en AFC in Asië is daarteen gekant. Hulle sê volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika moet eers plaasvind, wat reeds uitgebrei word van 32 na 48 spanne. Die wêreldliggaam, Fifa, gaan die voorstel volgende maand bespreek. Die toernooi word in 2030 aangebied deur Spanje, Portugal en Marokko, met sommige wedstryde in Suid-Amerika.
# En boks: Die promotor Bob Arum glo nie Tyson Fury sal weer ‘n ommekeer maak nie. Die 36-jarige Britse swaargewig het in Januarie onverwags uitgetree nadat hy weereens ‘n wêreldtitel-geveg teen die Oekraïner Oleksandr Usyk verloor het. Fury het al meer as een keer tevore uitgetree, maar Arum glo nie dat hy meer bereid is om vroeg op te staan en te oefen terwyl hy nie geld nodig het nie. Hy het ‘n geskatte 942-miljoen-rand verdien in sy loopbaan waartydens hy 34 van sy 37 beroepsgevegte gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….