Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die Haaie het ‘n toergroep vol Springbokke aangewys vir hulle volgende twee Verenigde Rugbykampioenskapswedstryde in Europa. Eben Etzebeth, Grant Williams, Lukhanyo Am en Aphelele Fassi is ná beserings terug verwelkom. Die toergroep bestaande uit 16 voorspelers en 12 agterspelers is afrigter John Plumtree se sterkste span wat hy hierdie seisoen beskikbaar het. Die Haaie, wat tans vierde op die punteleer is, speel Vrydag teen Edinburgh in Skotland en ʼn week later teen Ulster in Belfast, Ierland.
Nog rugby: Ikeys van die Universiteit van Kaapstad het die Maties van die Universiteit Stellenbosch 44-21 afgeransel in die Varsitybeker-eindstryd op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Ikeys het die laaste twee eindstryde verloor maar die Maties in hul 150ste herdenkingsjaar van ʼn sege beroof. Die Ikey-vleuel, Ntokozo Makhaza, is aangewys as Speler wat Rock, nadat hy twee drieë gedruk, al sy skoppe oorgeskop en 32 punte vir sy span aangeteken het. Dis die Ikeys se derde Varsitybeker en eerste sedert 2014.
# Krieket: Twee tieners is die eerste keer na die Protea-vroue opgeroep vir ’n driehoekige eendagreeks wat later die maand in Sri Lanka begin. Die 17-jarige paaltjiewagter Karabo Meso en die 19-jarige bybreek-draaibouler Seshnie Naidu het beïndruk vir die Suid-Afrikaanse onder-19-span wat vroeër vanjaar die eindstryd van die Junior Wêreldbekertoernooi gehaal het. Die veelsydige Miané Smit is ook ingesluit vir die reeks teen Sri Lanka en Indië. Die reeks word gesien as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi wat in Oktober in Indië begin.
# Gholf: Die nuut-gekroonde Meesters-kampioen, Rory McIlroy, het sy joggie geprys nadat hy Sondag gewen het om ‘n loopbaan-Grand Slam te behaal, en sê hy sou dit nie kon doen sonder die hulp van sy jarelange vriend Harry Diamond nie. Die twee is vriende sedert hul kinderjare, en Diamond was McIlroy se strooijonker op sy troue in 2018. Hy sê die oorwinning is net so veel Diamond s’n as syne. Diamond, ‘n voormalige amateurspeler, sal ten minste tien-persent van McIlroy se wengeld van 79,5-miljoen-rand ontvang.
# En motorsport: Red Bull se raadgewer, Helmut Marko, glo die Formule Een-span sal ‘n verbeterde motor moet ontwikkel om die dienste van die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen te behou. Die Nederlander is tans derde in die bestuurderskampioenskap na McLaren se twee renjaers, Lando Norris van Engeland en die Australiër Oscar Piastri, nadat hy nog net een van die seisoen se eerste vier wedrenne kon wen. Marko sê Red Bull sal ‘n basis vir ‘n motor moet skep waarmee Verstappen vir die kampioenskap kan veg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….