Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Die wêreld-nommer-twee, Rory McIlroy, het Justin Rose van Engeland in ‘n uitspeelronde geklop om die Meesters op Augusta in Georgia te wen en sy loopbaan-Grand Slam te behaal. Die Noord-Ierse speler het ʼn voëltjie op die eerste putjie van die uitspeelronde aangeteken om sy vyfde Major op te raap en slegs die sesde speler te word wat met ʼn loopbaan-Grand Slam kan spog ná Gary Player, Tiger Woods, Jack Nicklaus, Ben Hogan en Gene Sarazen. McIlroy sê hy is geëerd en trots:
Perrine Delacour van Frankryk het intussen ‘n laaste ronde van twee onder 70 aangeteken om die Suid-Afrikaanse Vroue Ope met twee houe te wen op die Erinvale-baan in Kaapstad. Dit is haar tweede Europese Vrouetoer-titel. Casandra Alexander van Suid-Afrika het met haar laaste ronde van 66 tweede geëindig op 12 onder baansyfer. Kelsey Bennett van Australië en die Brit, Bronte Law het die derde plek op 11 onder gedeel. Delacour sê hierdie oorwinning is ‘n groot hupstoot vir haar selfvertroue:
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is weer die wêreld-nommer-twee nadat hy die Monte-Carlo-meesterstitel ingepalm het. Die Spanjaard het die Italianer Lorenzo Musetti in drie stelle verslaan om sy sesde ATP-meesters-een-duisend-titel te verower. Jannik Sinner van Italië is steeds boaan die ATP-ranglys terwyl Alexander Zverev van Duitsland na die derde plek teruggesak het. Alex de Minaur van Australië skuif drie plekke op na sewende, terwyl Andrey Rublev van Rusland agtste is, gevolg deur sy landgenoot, Daniil Medvedev, wat terug is onder die top-tien.
# En motorsport: Die McLaren-renjaer Oscar Piastri het die Formule Een Grand Prix in Bahrein oorheers en die eerste wenner van die seisoen geword wat meer as een wedren wen. Die Australiër het 15 sekondes voor George Russell van Mercedes klaargemaak, met sy spanmaat, Lando Norris, derde. Charles Leclerc en Lewis Hamilton van Ferrari was onderskeidelik vierde en vyfde. Norris is nou slegs drie punte voor Piastri op die wêreldkampioenskap se punteleer.
En die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, het sy voorsprong in die bestuurders-kampioenskap vergroot toe hy die Katarse Grand Prix gewen het. Die Ducati-ryer het met Maverick Vinales van Red Bull KTM Tech3 en Franco Morbidelli van VR46 Racing afgereken. Die Suid-Afrikaner Brad Binder het 13de geëindig op sy Red Bull KTM. Marquez het nou ‘n voorsprong van 17 punte en sê hy is bly om die eerste keer sedert 2014 in Katar te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….