Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: 2010 se kampioen, Spanje, en België gaan mekaar in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi ontmoet. Mikel Merino se doel in die doodsnikke in Dallas het Spanje ‘n oorwinning van 1-nul oor Portugal besorg in die ronde van 16. Portugal se afrigter, Roberto Martinez, het daarna bedank, terwyl kaptein Cristiano Ronaldo reeds vroeër aangekondig het dit sal sy laaste toernooi wees. België het die mede-gasheer, Amerika, in Seattle 4-1 geklop danksy Charles de Ketelaere se twee doele en een elk deur Hans Vanaken en Romelu Lukaku.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, erken intussen hy het FIFA se president, Gianni Infantino, persoonlik gekontak om sy land se doelskopper, Folarin Balogun, se skorsing van een wedstryd tydens die Wêreldbekertoernooi te heroorweeg. Balogun sou die wedstryd teen België misloop nadat hy ‘n rooikaart gekry het vir vuilspel teen Bosnië-Herzegowina. FIFA het daarna besluit om die skorsing vir ʼn jaar op te skort. Trump sê dis die regte besluit:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus wil soveel as moontlik spelers toetservaring gee en het talle veranderings aangebring aan die groep vir Saterdag se Nasieskampioenskapswedstryd teen Skotland op Loftus. Slegs vyf spelers is oor in die opdrafspan van die groep wat Engeland die afgelope naweek op Ellispark 45-21 verslaan het. Pieter-Steph du Toit is weer kaptein en deel van die lostrio saam met Evan Roos en Paul de Villiers, wat sy buiging teen Engeland gemaak het. Erasmus sê Skotland sal ‘n goeie toets vir die Bokke se diepte wees.
# Krieket: Marizanne Kapp is die enigste Suid-Afrikaner in die T20-Wêreldbeker se Span van die Toernooi. Die 36-jarige Kapp het 124 lopies aangeteken en agt paaltjies platgetrek voor die Protea-vroue in die halfeindronde teen Engeland verloor het. Die kampioen, Australië, het vier spelers in die span: kaptein Sophie Molineux, Beth Mooney, Ellyse Perry en Ashleigh Gardner. Die naaswenner, Engeland, het twee verteenwoordigers: Danni Wyatt-Hodge en kaptein Nat Sciver-Brunt, met een speler elk van Indië, Ierland, Sri Lanka, Pakistan en Skotland.
# En tennis: Die wêreld-nommer-114, Arthur Fery, het Grigor Dimitrov van Bulgarye op Wimbledon verslaan en die eerste Britse promotorskeuse in die Ope-era geword om die kwarteindronde van ‘n Grand Slam-toernooi te bereik. Hy speel volgende teen die Italianer Flavio Cobolli, wat die Australiër Alex de Minaur uitgeskakel het. Die Amerikaner Taylor Fritz het Alexander Bublik van Kazakstan geklop. In die vroue-afdeling het die Italianer Jasmine Paolini die Filippyn Alexandra Eala verslaan, terwyl die Tsjeg Linda Nosková deur is na die kwarteindronde toe sy die Amerikaner Madison Keys uitgeskakel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….