Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok Sewes se afrigter, Philip Snyman, is bekommerd oor sy span se gebrek aan bestendigheid. Die Blitsbokke het Australië 26-7 geklop om negende te eindig in die Singapoerse sewestoernooi, terwyl Fidji die vierde keer as kampioen gekroon is nadat hy Kenia 21-12 verslaan het in die eindstryd in Kallang. Snyman sê hulle het hierdie seisoen vordering getoon, hoewel hulle hoër doelwitte vir hulself gestel het:
# Nog rugbynuis: Die Haaie is uit die Uitdaagbeker-reeks ná hul nederlaag van 34-21 teen Lyon in die ronde van 16 op die Matmut-stadion in Frankryk. Die tuisspan het vyf drieë gedruk teenoor die besoekers en heersende kampioen se drie. Die Bulle is die enigste Suid-Afrikaners wat in die kompetisie oorbly. Lyon en die Ospreys meet nou kragte in die Uitdaagbeker se kwarteindronde terwyl die Haaie ‘n week lange blaaskans kry voor hulle Edinburgh volgende Vrydag in die Verenigde Rugbykampioenskap takel.
# Gholf: Mimi Rhodes van Engeland het die Johannesburgse Vroue-Ope op die Modderfonteinse Gholfklub met een hou gewen en haar tweede agtereenvolgende Europese Toer-titel vir Vroue opgeraap. Die 23-jarige speler het ʼn ronde van twee onder 71 behaal om op 14 onder eerste op die voorlopersbord te eindig. Die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, het in die laaste ronde 69 behaal om tweede te eindig op 13 onder baansyfer, terwyl Helen Briem van Duitsland derde was. Rhodes gee erkenning aan Alexander, wat haar tot met die laaste putjie uitgedaag het:
# Sokker: Sokker: Die voorloper, Liverpool, het slegs sy tweede Premierliga-nederlaag van die seisoen gely toe hy 3-2 teen Fulham verloor het. Arne Slot se span het die kans verbrou om ‘n voorsprong van 14 punte bo Arsenal op te bou. Die heersende kampioen, Manchester City, het sonder doele gelykop gespeel teen Manchester United. Southhampton is uit die Premierliga met nog sewe wedstryde oor na hy 3-1 teen Tottenham Hotspur vasgeval het. Slot ontken dat moegheid ‘n probleem vir sy spelers is:
# En ten slotte, tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is tevrede met die manier waarop hy tot dusver die seisoen speel. Dit is ondanks die Spanjaard se nederlaag in die halfeindronde van die Indian Wells Ope, en nadat hy onverwags in die eerste ronde van die Miami Ope uitgeskakel is. Die eerste toernooi van die Europese kleibaanseisoen begin hierdie week in Monte Carlo. Alcaraz sê hy voel goed en sien uit daarna om goed te vaar in die meesterstoernooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….