Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Blitsbok Siviwe Soyizwapi sê hulle speel in die Singapoerse toernooi met ‘n duidelike doelwit om die seisoen sterk af te sluit. Die Blitsbokke het verlede naweek in Hongkong klei getrap en negende geëindig nadat hulle nie die kwarteindronde kon haal nie. Suid-Afrika is tans vierde op die punteleer met 66 punte, met die voorloper, Argentinië, op 88. Soyizwapi sê elke toernooi het sy eie meriete en hulle moet van voor af begin:
Die Springbok-vroue speel in Julie twee toetse teen Kanada in Pretoria en Gqeberha as voorwedstryde vir die mans se toetse teen Italië. Kanada is tweede op die wêreldranglys en Suid-Afrika 12de. Die Bokvroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, sê die bevestiging van die toetse is wonderlik omdat hulle teen die wêreld se beste spanne moet speel om gereed te wees vir die Wêreldbekertoernooi. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die toetse sal die Springbok-vroue se groei en status vertoon.
# Gholf: Die topgekeurde speler in die Vroue Europese Toer, Cara Gainer, sê sy sien uit om deel te neem aan die Johannesburgse Vroue Ope wat vandag op die Modderfontein-gholfklub afslaan. Die beroepspeler van Engeland neem die eerste keer sedert 2023 deel. Vanjaar se geleentheid sluit in die verdedigende kampioen, Chiara Tamburlini van Switserland, die Suid-Afrikaner Casandra Alexander, en Lucie Malchirand van Frankryk. Gainer sê sy sien uit om haar jaar se goeie begin voort te sit:
# Krieket: Die snelbouler Mohammad Siraj en kolwer Jos Buttler het geskitter in Gujarat Titans se oorwinning met agt paaltjies oor Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga. Liam Livingstone se 54 het RCB gehelp om 169 vir agt op die telbord te plaas, met Siraj wat drie paaltjies platgetrek het. Buttler het daarna ‘n onoorwonne 73 van 39 balle aangeteken en Titans het die teiken bereik met 13 balle oor. Die twee spanne is nou gesamentlik derde op die punteleer met twee oorwinnings en een nederlaag elk uit hul drie wedstryde.
# En ten slotte, motorsport: Die Nieu-Seelander Liam Lawson erken hy was geskok toe Red Bull hom na Racing Bulls afgradeer het na net twee wedrenne in die Formule Een-seisoen. Hy is na sy powere vertonings in Australië en Sjanghai vervang met Racing Bulls se Japanese renjaer, Yuki Tsunoda, wat sy langverwagte kans in die hoofspan kry. Lawson sê hy is gefrustreerd oor die min tyd wat hy gekry het, maar fokus daarop om die naweek goed te vaar in Japan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….