Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met padwedlope: Die Stad Kaapstad sê meer as 30-duisend atlete sal die naweek aan die 54ste Twee Oseane-marathon deelneem. Saterdag se ultra-marathon strek oor 56-kilometer van Nuweland tot by die Universiteit van Kaapstad aan die voet van Tafelberg. Die half-marathon van 21,1-kilometer vind Sondag plaas. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê 89 lande sal verteenwoordig word:
# Krieket: Die voormalige Nieu-Seelandse toetskaptein, Kane Williamson, is ten gunste van aangewese gleuwe in die internasionale spel en glo dit kan bydra tot ‘n meer gelyke Wêreldtoetskampioenskap. Die Internasionale Krieketraad sal later die maand die voorgestelde veranderings aan die formaat oorweeg nadat kritiek ontvang is oor ongebalanseerde skedules en ‘n verwarrende puntestelsel. Williamson sê die huidige siklus, waarin Australië, Engeland en Indië baie meer wedstryde speel as ander lande, is nie ideaal nie. Suid-Afrika speel teen Australië in die eindstryd van die huidige siklus.
Nog krieketnuus: Punjab Kings het agtereenvolgende oorwinnings in die Indiese Premierliga behaal toe hulle Lucknow Super Giants met agt paaltjies verslaan het. Arshdeep Singh het vier paaltjies platgetrek en LSG is tot 171 vir sewe beperk. Prabhsimran Singh het daarna 69 van 34 balle behaal terwyl kaptein Shreyas Iyer ʼn onoorwonne 52 bygedra het. Punjab het die teiken in 16 boulbeurte en twee balle bereik. Dis LSG se tweede nederlaag uit drie wedstryde. Royal Challengers Bengaluru en Gujarat Titans spook vandag sake uit.
# Motorsport: Red Bull verwag sy nuwe renjaer, Yuki Tsunoda, moet net so na as moontlik aan die Nederlandse wêreldkampioen, Max Verstappen, bly in die naweek se Grand Prix in sy vaderland, Japan. Dit volg nadat hy Liam Lawson van Nieu-Seeland vervang het na net twee wedrenne. Red Bull se spanbestuurder, Christian Horner, het Tsunoda aangesê om te probeer om die span te help, wat tans derde in die vervaardigers-kampioenskap is. Die 24-jarige sê hy sal tevrede wees om net onder die voorste tien te eindig in Suzuka.
# En laastens, tennis: Stan Wawrinka van Switserland het sy eerste toer-sege van die seisoen behaal in die eerste ronde van die Tiriac Ope in Boekarest, Roemenië, toe hy die kwalifiseerder, Timofey Skatov van Kazakstan geklop het. Wawrinka is die derde speler van 40 of ouer wat sedert 1980 ʼn ATP-toer- of Grand Slam-wedstryd op klei wen. Die verdedigende kampioen, Marton Fucsovics van Hongarye, het die Italianer, Luca Nardi verslaan en kom in die tweede ronde teen die Argentyn, Mariano Navone, te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….