Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Gholf: Michael Hollick van Suid-Afrika het ‘n laaste ronde van agt onder syfer-64 aangeteken om die DNi-toerkampioenskap in Pretoria met een hou te wen voor Jacques Kruyswijk en George Coetzee. Jonathan Broomhead het vierde geëindig. Intussen is Daniel van Tonder as wenner van die Sonskyntoer Meriete-orde vir die 2024/’25-seisoen gekroon, en Altin van der Merwe het die nuweling-van-die-jaar-toekenning gewen. Hollick sê dit was ‘n spesiale jaar:
# Tennis: Die 19-jarige Jakub Mensik het die sesmalige kampioen, Novak Djokovic, oorrompel om die Miami Ope te wen – sy eerste ATP-toertitel. Die Tsjeg, die tweede jongste wenner ooit na Carlos Alcaraz, het die Serwiër 7-6, 7-6 geklop. Die 37-jarige Djokovic was op pad na sy 100ste toervlaktitel. In Saterdag se vroue-eindstryd het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, haar tweede titel van die jaar ingepalm deur die Amerikaner Jessica Pegula 7-5, 6-2 te verslaan.
# Krieket: Die Australiër Mitchell Starc het geskitter met die bal in Delhi Capitals se oorwinning met sewe paaltjies oor Sunrisers Hyderabad in die Indiese Premierliga. Starc het sy eerste vyf-paaltjie-oes in T20-krieket behaal en Sunrisers tot 163 beperk. Die Suid-Afrikaner Faf du Plessis het daarna 50 aangeteken en Delhi het die teiken bereik met 30 balle oor. In Guwahati het Nitish Rana 81 lopies behaal en Rajasthan Royals hul eerste oorwinning in die huidige veldtog besorg met ‘n oorwinning met ses lopies oor Chennai Super Kings.
# Sokker: Manchester City het ʼn FA-beker-halfeindwedstryd op die Wembley-stadion teen Nottingham Forest bespreek. City, wat die trofee laas in 2023 gewen het, het die sewende agtereenvolgende jaar die laaste vier gehaal nadat hulle Bournemouth met 2-1 geklop het. Forest het hulle eerste FA-beker-halfeindronde sedert 1991 gehaal toe hulle met Brighton afgereken het. In die ander halfeindwedstryd kom Crystal Palace, wat Fulham met 3-0 afgeransel het, teen Aston Villa te staan wat die Kampioenskapspan, Preston North End, ook met 3-0 kafgedraf het.
# En ten slotte, motorsport: Francesco Bagnaia van Ducati het in sy eerste oorwinning van die seisoen die MotoGP Grand Prix van die Amerikas gewen. Die Italianer het die voortou geneem nadat die sesmalige wêreldkampioen, Marc Márquez, in die negende ronde ʼn ongeluk gemaak en onttrek het weens groot skade aan sy motorfiets. Sy broer, Álex Márquez van Gresini Racing, was tweede en is nou boaan die jaerskampioenskap, terwyl Fabio Di Giannantonio van VR46 Racing derde was. Bagnaia erken dat sy oorwinning deels aan geluk toegeskryf kan word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….