Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Die Suid-Afrikaanse Formule Een-bodbestuurskomitee het drie bod-voorstelle ontvang teen die sperdatum van 18 Maart. Die land sal na verwagting in Mei vanjaar sy amptelike tender indien om in 2027 ‘n Grand Prix aan te bied. Suid-Afrika het in 1993 laas ʼn wedren aangebied op Kyalami in Gauteng. Die komitee sê die beoordelingsproses van die aanbiedinge sal teen einde April afgehandel wees. Hy voeg by die voorstelle sal aan F1-vereistes moet voldoen.
# Rugby: Die Springbokslot RG Snyman gaan nog ‘n jaar vir Leinster speel. Hy het verlede jaar van ‘n ander Ierse span, Munster, by Leinster aangesluit. Hy het sy professionele debuut by die Bulle gemaak voordat hy na Japan verhuis het. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, het glo ook probeer om Snyman terug te kry. Die Ierse span speel môre in Durban teen die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle verswakte span verlede naweek in Pretoria met een punt teen die Bulle verloor het.
# Krieket: Lucknow Super Giants het Sunrisers Hyderabad met vyf paaltjies geklop in hul eerste sege in vanjaar se Indiese Premierliga. Sunrisers het 190 vir nege aangeteken nadat hulle ingestuur is om te kolf, met 47 van Travis Head. Shardul Thakur het vier paaltjies geneem. Nicholas Pooran het daarna 70 van 26 balle gemoker om Super Giants te help om die teiken te bereik met 23 balle oor. Chennai Super Kings en Royal Challengers Bengaluru pak mekaar vandag.
Michael Bracewell sal Nieu-Seeland intussen aanvoer in die reeks van vyf eendagwedstryde teen Pakistan nadat Tom Latham weens ‘n handbesering moes onttrek. Latham sou instaan vir die gereelde kaptein, Mitchell Santner, wat aan die IPL deelneem, maar het sy hand gebreek gedurende oefeninge in die nette. Hy sal minstens ‘n maand uit wees. Bracewell het die Swartpette gelei in die T20-reeks teen Pakistan, wat Nieu-Seeland 4-1 gewen het. Die eerste eendagwedstryd sal môre in Napier gespeel word.
# En ten slotte, tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, speel môre teen die Amerikaner Jessica Pegula in die Miami Ope se eindstryd. Sabalenka het Jasmine Paolini van Italië afgeransel terwyl Pegula die Filippynse tiener, Alexandra Eala, se sprokies-segetog beëindig het. In die mansafdeling het die Serwiër Novak Djokovic na die halfeindronde deurgedring met sy oorwinning oor die Amerikaner Sebastian Korda. Nog ʼn Amerikaner, Taylor Fritz, die ongekeurde Tsjeg Jakub Mensik, en die Bulgaar Grigor Dimitrov is ook deur na die halfeindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….