Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: St Georgepark in Gqeberha sal vanaand die gasheer wees vir die langverwagte eerste wedstryd van die tweede SA20-seisoen. Die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, moet hulself vroeg in die toernooi reeds teen die Joburg Super Kings bewys. Die openingswedstryd beloof om ‘n feestelike kragmeting te wees met ‘n magdom sterspelers in albei spanne wat hulle teen hul teenstanders wil opweeg. Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, voer weer die Sunrisers aan en sê hy is opgewonde:
# Vervolgens, sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het sy kommer uitgespreek oor talle beserings in die groep, in aanloop tot die Afrikanasies-beker in Ivoorkus. Talle spelers, insluitend kaptein Ronwen Williams en Themba Zwane, kon weens knaende beserings nie aan die span se laaste oefensessie deelneem nie. Die verdediger, Mothobi Mvala, se deelname is ook nog onseker ná ‘n liesbesering. Broos sê dit sal ʼn groot terugslag wees indien Mvala nie beskikbaar is vir die toernooi nie:
# Nou, rugbynuus: Die Bulle se afrigter, Jake White, sê die groep se diepte sal oor die volgende paar weke belangrik wees. Die Bulle sal nie hulle Springbokke beskikbaar hê vir die Kampioenebeker se volgende twee rondes, of die Verenigde Rugbykampioenskap se derby teen die Leeus aan die einde van die maand nie. Dit is nadat SA Rugby op ʼn verpligte blaaskans van vyf weke vir alle Springbokke besluit het. White sê hulle fokus nou op Saterdag se kragmeting teen Bristol:
# Tennis is volgende aan die beurt: Die hoof van die Australiese Ope, Craig Tiley, het die proses van die toevoeging en verspreiding van promotorskeuses verdedig. Dit volg nadat Arina Rodionova Tennis Australië gekritiseer het en beweer het ‘n persoonlike vendetta teen haar het verhoed dat sy as ‘n promotorskeuse by die agterdeur na die Ope inglip, in weerwil van die feit dat sy die voorste vrouespeler in haar land is. Die 34-jarige Radionova is gister in die kwalifiserende ronde van die Australiese Ope uitgeskakel. Tiley sê verskeie faktore word oorweeg om ‘n speler as ‘n promotorskeuse aan te wys, insluitend ouderdom, huidige vorm en die hoeveelheid wedstryde wat hulle gepseel het.
# En, om mee af te sluit: Die Kaapstadse avontuur-swemmer, Kim Prytz, het haar naam in die rekordboeke verewig deur die Robbeneiland-oorgang as borslagswemmer te oorwin. Prytz het die afstand van 19.8-kilometer sonder ʼn duikpak in 14 uur, 13 minute en 3 sekondes afgelê. Dit is genoem die ‘Versoeningswemtog’ en hierdie merkwaardige prestasie het ook ʼn liefdadigheid in gedagte gehad. Die 49-jarige Prytz het haar swemtog toegewy ter ondersteuning van die Goedgedacht Trust. Die trust is aktief gemoeid met die hervorming van benadeelde landelike gemeenskappe in die Wes-Kaap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….