Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Bafana Bafana het Benin 2-0 geklop in ‘n Wêreldbeker-kwalifiseerder in Abidjan in die Ivoorkus om steeds voor te loop in Groep C. Lyle Foster en Jayden Adams se doele in die tweede helfte was genoeg om die besoekers se oorwinning te verseker. Suid-Afrika het 13 punte na ses wedstryde en loop nou met vyf punte voor in Groep C, terwyl Rwanda en Benin albei agt punte het. Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê sy spelers het bewys hulle kan onder moeilike omstandighede sukses behaal.
# Krieket: Die Suid-Afrikaner Allahuddien Paleker en Alex Wharf van Engeland is ingesluit op die Internasionale Krieketraad se elite-paneel skeidsregters vir 2025-’26. Paleker, wat die sewende Suid-Afrikaanse skeidsregter op die paneel is, het in vier toetse as veld-skeidsregter opgetree. In mans-krieket het hy 23 eendagwedstryde en 67 T20’s waargeneem, en was ook skeidsregter in 17 internasionale vroue-wedstryde. Paleker sê hy is trots om op die elite-paneel te dien, maar dis ook ʼn groot verantwoordelikheid.
Nog krieketnuus: Die ikoniese Gabba-stadion in Brisbane gaan gesloop word na 2032 se Olimpiese Spele in die Australiese stad. Dit is aangekondig as deel van die planne vir die byeenkoms, wat die oprigting van drie nuwe stadions in die middestad insluit. Die hoofstadion wat die atletiek-program en die opening- en sluitingseremonie sal aanbied, sal daarna die Gabba vervang. Queensland se premier, David Crisafulli, sê die verouderende Gabba was ‘n wonderlike spilpunt vir krieket sedert dit in 1895 geopen is, maar ondervind tans talle uitdagings.
# Tennis: Die sesmalige kampioen Novak Djokovic is die agtste keer deur na die kwarteindronde van die Miami Ope. Die Serwiër het die Italianer Lorenzo Musetti verslaan en kom nou teen die Amerikaner Sebastian Korda te staan, wat die Fransman Gael Monfils uitgeskakel het. Die Italianer Matteo Berrettini en die Amerikaner Taylor Fritz is ook deur na die laaste agt. In die vroue-afdeling het die Italianer Jasmine Paolini die Pool Magda Linette verslaan vir ‘n halfeindstryd teen die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus.
# En laastens, perdewedrenne: Renperde gaan in die toekoms in Brittanje getoets word vir gene-opkikkers as deel van ‘n teen-opkikkerprogram. Die Britse Perdewedren-owerheid het die aankondiging gedoen nadat hy byna 50-miljoen-rand belê het in omvattende navorsing oor opsporingsmetodes. Die liggaam sê daar is geen bewyse van gene-opkikkergebruik in die sport nie, maar hy wil waak teen toekomstige korrupsie-gevare. BBC Sport berig gene-opkikkers sluit die gebruik van genetiese of sel-manipulering van DNS in om atletiese prestasie te verbeter of herstel na oefening te versnel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….