Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-heelagter Willie le Roux se skouer is geopereer en sal na verwagting ‘n maand lank buite aksie wees. Dis ʼn groot slag vir die Bulle se afrigter, Jake White, wat reeds bekommerd is dat die voorspelers Cameron Hanekom en Johan Grobbelaar nie Saterdag beskikbaar sal wees vir hul Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Zebre in Pretoria nie. Grobbelaar sukkel met ʼn skouerbesering terwyl Hanekom ‘n stamp gekry het in die oorwinning oor Leinster. Die Bulle is tans derde op die VRK-punteleer.
Sewes-rugby: Die ervare Blitsbokspeler Siviwe Soyizwapi sê hulle is goed op pad om hulle droom te verwesenlik om onder die eerste vier spanne te eindig in elke toernooi in die huidige wêreldreeks. Suid-Afrika is tans vierde op die punteleer na Argentinië, Spanje en Fidji nadat hulle in Kaapstad gewen en tweede was in Vancouver. Soyizwapi sê hulle is goed voorbereid vir die naweek se toernooi in Hongkong en vasberade om te wen. Hy sê hulle het aanspraakmakers geword in elke toernooi waarin hulle speel.
# Krieket: Delhi Capitals se onderkaptein, Faf du Plessis, sê hy steun die Indiese Premierliga se impakspeler-reël. Dit laat ʼn kolwer of bouler toe om enige tyd in die wedstryd ʼn ander speler in die begin-elftal te vervang. Die impakspeler-plaasvervanger Ashutosh Sharma se onoorwonne 66 van 31 balle het Delhi gister gehelp om Lucknow Super Giants met een paaltjie te klop. Du Plessis sê Sharma het die waarde van die reël bewys:
# Motorsport: Ferrari se Formule Een-span sê daar was geen bedoeling om enige voordeel te behaal nadat albei sy bestuurders gediskwalifiseer is na Sondag se Chinese Grand Prix in Shanghai nie. Charles Leclerc was vyfde en Lewis Hamilton sesde, maar albei is daarna ingelig dat tegniese oortredings hul uitslae nietig gemaak het. Die span sê Leclerc se motor was net ‘n kilogram ondergewig omdat hul een-stop-strategie beteken het sy bandverbruik was baie hoog, terwyl Hamilton se agterste plaat wat aan die rand van die drukvlerk kom, vervang is. Oscar Piastri van McLaren het gewen.
# En ten slotte, sokker: Die gewese president van die wêreldbeheerliggaam Fifa, Sepp Blatter, en die bekende voormalige Franse speler Michel Platini staan van vandag in Switserland tereg in ‘n korrupsie-saak. Die 89-jarige Blatter word daarvan aangekla dat hy in 2011 41-miljoen-rand uit Fifa se geldkoffers aan die 69-jarige Platini betaal het as ‘n raadplegingsfooi. ‘n Laer hof het hulle in 2022 onskuldig bevind, maar ‘n appèlaansoek het gelei het tot die nuwe verhoor. Fifa het albei in 2015 geskors, wat Platini se droom beëindig het om Blatter op te volg as president.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….