Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die tienersensasie Bayanda Walaza het gisteraand die Suid-Afrikaanse Onder-20-rekord in die 200-meter verbeter op AtletiekSA se Grand Prix-byeenkoms in Johannesburg. 2024 se Olimpiese silwermedaljewenner het die item gewen in ‘n nuwe persoonlike beste tyd van 20,08-sekondes, 0,02-sekondes vinniger as Clarence Munyai se nasionale rekord van 20,10 in Maart 2017. Lucky Moleyane was tweede, met die voormalige Wêreldkampioenskap-finalis Luxolo Adams, derde. Walaza sê hy werk deurgaans om te verbeter:
# Gholf: Karoline Lund van Noorweë loop voor in die Vroue Ope nadat sy sewe onder baansyfer-64 aangeteken het in die aanvangsronde op die Blair Atholl Gholf- en Perdelandgoed in Gauteng. Die 26-jarige Lund is een hou voor Nikki Hofstede van Nederland en Hayley Davis van Engeland. Die Suid-Afrikaners Casandra Alexander en Tandi McCallum is twee houe agter die voorloper op vyf onder baansyfer. Die prysgeld is met nog 200-duisend-rand verhoog tot 1,2-miljoen-rand. Lund sê haar strategie is om voort te gaan met aggressiewe spel:
# Krieket: Ondersteuners van die sport gaan die volgende twee maande heerlik vermaak word wanneer die uiters gewilde Indiese Premierliga plaasvind met tien spanne wat in 13 stede altesaam 74 wedstryde speel. Die verdedigende kampioen, Kolkata Knight Riders, is gasheer vir Royal Challengers Bengaluru in Saterdag se openingswedstryd, en bied ook op 25 Mei die eindstryd aan. Elke span speel sewe tuis- en sewe wegwedstryde, gevolg deur drie uitspeelstryde en die eindstryd. Prysgeld is vanjaar 3,6-miljoen-rand.
# Tennis: Die Australiër Nick Kyrgios het in die eerste ronde van die Miami Ope sy eerste ATP Toer-oorwinning sedert 2022 behaal. Die 29-jarige speler wat met voet- en polsbeserings sukkel, het die Amerikaner Mackenzie McDonald geklop. Die 38-jarige Fransman, Gael Monfils, het die Hongaar Fabian Marozsan verslaan om die tweede oudste man naas Jimmy Connors te word wat ‘n wedstryd in die toernooi wen. In die vroueafdeling is Victoria Azarenka van Belarus en Naomi Osaka van Japan deur na die tweede ronde.
# En ten slotte: Die lede van die Internasionale Olimpiese Komitee sal vandag in Griekeland die eerste keer sedert 2013 ‘n nuwe president verkies om Thomas Bach van Duitsland op te volg. Sewe kandidate ding mee om die magtigste posisie in die sportwêreld. Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe van Engeland, is een van die gunstelinge, saam met Juan Antonio Samaranch Junior van Spanje en Kirsty Coventry van Zimbabwe, wat meeding om die eerste vroulike president van die IOK te wees. Bach sal tot Junie aanbly as deel van ‘n oordragproses aan sy opvolger.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….