Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die gewese Protea-kaptein Faf du Plessis sal Axar Patel se adjunk by Delhi Capitals wees in vanjaar se Indiese Premiersliga. Du Plessis was drie lank Royal Challengers Bengaluru se kaptein tot verlede jaar, maar is nie behou nie. Delhi het hom op die veiling aangekoop vir 4,3-miljoen-rand. Delhi het nog nooit die kompetisie gewen nie. Du Plessis speel al sedert 2012 in die IPL en het reeds vier-duisend-571 lopies aangeteken in 145 wedstryde. Die IPL begin Saterdag wanneer Kolkata Knight Riders gasheer is vir RCB.
# Rugby: Die verdedigende kampioen, die Vrystaatse Shimlas, is op die wenpad na hul spannende sege van 16-9 oor die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in die Varsitybeker se vyfde ronde. Die voorlopers, die Universiteit Stellenbosch se Maties, is steeds onoorwonne nadat hulle die Ikeys van Kaapstad 31-24 verslaan het. Die Universiteit van Pretoria se Tuks het die Noordwes-universiteit se Arende 26-17 verslaan. Die Universiteit van Johannesburg het die Wits-universiteit met 32-24 verslaan.
# Motorsport: Die Britse renjaer Lando Norris sê sy Formule Een-span, McLaren, het geleer uit verlede jaar se foute toe hulle die vervaardigers-kampioenskap gewen, maar hy tweede was in die bestuurders-kampioenskap na Red Bul se Nederlandse jaer, Max Verstappen. Norris het Verstappen Sondag geklop in die seisoen se eerste Grand Prix op ‘n sopnat baan in Melbourne, Australië. Norris sê hulle het die winter goed voorberei vir ‘n nat wedren nadat hulle verlede seisoen verkeerde besluite oor bande geneem het tydens soortgelyke toestande in Kanada en op Silverstone.
# Tennis: Die sesmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwie, en 2022 se wenner, Carlos Alcaraz van Spanje, spook dalk sake uit in die halfeindronde van die Miami Ope. Djokovic begin sy veldtog teen sy landgenoot Hamad Medjedovic of die Australiër Rinky Hijikata. Alcaraz takel David Goffin van België of Aleksandar Vukic van Australië. Die pasgekroonde kampioen van Indian Wells, Jack Draper van Brittanje, wat die geleentheid het om die gesogte Sonskyn-dubbel te voltooi, is in dieselfde deel van die loting as die Duitser Alexander Zverev.
# En ten slotte, boks: Die sport gaan teenwoordig wees op 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles nadat ‘n nuwe beheerliggaam gekies is. Die uittredende hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee, Thomas Bach, sê hulle uitvoerende raad het dit goedgekeur nadat hulle Wêreldboks erkenning gegee het om toesig te hou oor die sport op die Spele. Dit beëindig jare van verdeeldheid oor die manier waarop die sport beheer is. ‘n Volle sitting van die IOK moet die besluit later die week bekragtig, maar dit gaan na verwagting net ‘n formaliteit wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….