Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe is op SA Rugby se toekenningsgeleentheid aangewys as mansspeler van die jaar. Hy is die eerste agterspeler sedert 2013 wat die gesogte titel ontvang. Nadine Roos is aangewys as vrouespeler van die jaar. Die Bok-losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezulu, is die jong speler van die jaar terwyl die Blitsbok, Selvyn Davids, die Sewes-speler van die jaar is. Die Springbokke en Rassie Erasmus is onderskeidelik span en afrigter van die jaar. Kolbe sê die toekenning was onverwags:
Nog rugby: Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het vir Maxime Lucu die beseerde kaptein, Antoine Dupont, se nommer 9-trui gegee vir môre se Sesnasieswedstryd teen Skotland in Parys. Hy sê dis onmoontlik om die 32-jarige nie te beloon vir verlede naweek se indrukwekkende vertoning teen Ierland nie, toe hy Dupont voor rustyd vervang het. Die ervare Gael Fickou speel senter in Pierre-Louis Barassi se plek in die enigste ander verandering aan die span wat moontlik Ierland se hoop op ‘n derde agtereenvolgende titel verydel het.
# Krieket: Die Engelse kolwer, Harry Brook, is vir twee seisoene uit die Indiese Premierliga geskors nadat hy weer aan die winsgewende T20-kompetisie onttrek het. Die 26-jarige het verlede jaar se weergawe vir Delhi Capitals misgeloop na sy ouma se dood. Hy het vroeër die maand die span in kennis gestel dat hy tyd nodig het om te herstel ná die besigste tyd van sy loopbaan. Die IPL sê die skorsing is deel van ‘n beleid waaroor elke speler ingelig word voordat hy vir die jaarlikse veiling registreer.
Die snelbouler Mark Wood het intussen ‘n operasie vir ‘n kniebesering ondergaan wat hom moontlik hierdie seisoen uit al Engeland se tuistoetse sal hou. Hy sal beslis nie voor die einde van Julie beskikbaar wees nie, maar sal hopelik kan speel wanneer die reeks om die As in November in Australië begin. Wood bestuur die besering nou al ‘n jaar lank, maar dis vererger gedurende die Kampioenetrofee. Hy het onlangs teruggekeer nadat ‘n elmboogbesering hom sedert Augustus verlede jaar op die kantlyn gehou het.
# En tennis: Die tweemalige kampioen, Carlos Alcaraz, het die vierde agtereenvolgende jaar deurgedring na die halfeindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi toe hy Francisco Cerundolo van Argentinië geklop het. Hy kom nou teen die Brit Jack Draper te staan, wat die Amerikaner Ben Shelton uitgeskakel het. Daniil Medvedev van Rusland het Arthur Fils van Frankryk verslaan. In die vroueafdeling is die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, en die Rus Mirra Andreeva deur na die halfeindronde. Alcaraz sê hy geniet die toernooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….