Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus beplan om die nasionale groep se vaardighede te verbreed. Hy het die Bokke se eerste belyningskamp in Kaapstad voltooi. Die spelers het in die gimnasium gewerk en aan besprekings deelgeneem. Erasmus sê die doel van die kampe is om almal op dieselfde bladsy te kry ten opsigte van die vooruitsigte vir die jaar, om doelwitte te stel en die spelers in te lig oor wat van hulle verwag word. Hy is hoogs tevrede met hoe die spelers bymekaar gekom en by mekaar geleer het.
Nog rugby: Marcus Smith is as heelagter ingesluit vir Engeland se laaste Sesnasieswedstryd Saterdag teen Wallis in Cardiff. Die spelskepper van Harlequins het die kampioenskap op losskakel begin, maar was op die bank vir verlede naweek se wedstryd teen Italië op Twickenham wat Engeland 47-24 gewen het. Smith het as heelagter opgekom en ‘n drie gedruk. Hy het ook in die posisie gespeel teen Frankryk en Skotland. Elliot Daly skuif na linkervleuel en Tom Roebuck begin sy eerste opdrafwedstryd as regtervleuel. Tommy Freeman skuif van vleuel na buitesenter.
# Krieket: Die Dolphins is deur na die eindstryd van die Eendagbeker-eindstryd toe hulle die Titans met 65 lopies geklop het in die kwalifiserende ronde in Durban. Hanu Viljoen en Eathan Bosch se vennootskap van 86-lopies het die Dolphins gehelp om 228 vir agt aan te teken. Andile Phehlukwayo het vier paaltjies laat spat. Keshave Maharaj en Tristan Luus het die Dolphins se teenaanval gelei en drie paaltjies elk laat kantel met die Titans wat vir 163 uitgeboul is. Die Dolphins kom Sondag in die Paarl teen Boland te staan in die eindstryd.
Nog krieketnuus: Afganistan hoop om Ierland volgende jaar te besoek vir ‘n veelformaat-reeks nadat die Iere vanjaar se toer om finansiële redes afgestel het. Ierland moes Afganistan in Augustus ontvang vir ‘n eenmalige toets, drie eendagwedstryde en drie T20s. Krieket Ierland se uitvoerende hoof, Warren Deutrom, sê die besluit is deel van die bestuur van korttermyn-begrotingsbeperkings. Afganistan sê die twee lande oorweeg geskikte moontlikhede om die toer te herskeduleer en hoop om ‘n gleuf te vind wat albei pas.
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is die vierde agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi. Die Spanjaard het Grigor Dimitrov van Bulgarye verslaan en speel volgende teen Francisco Cerundolo van Argentinië. Alcaraz hoop om die toernooi ‘n derde keer te wen. Die 22-jarige Ben Shelton het sy Amerikaanse landgenoot Brandon Nakashima verslaan en die jongste plaaslike speler in 21 jaar geword om die kwarteind te haal. Die Rus Daniil Medvedev en Jack Draper van Brittanje is ook deur na die laaste agt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….