Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Warriors is gediskwalifiseer vir die uitspeelstryd van die Eendagbekerreeks omdat hulle nie voldoen het aan Krieket Suid-Afrika se kwota-vereistes nie. Hulle het verlede maand nagelaat om drie swart spelers in te sluit vir ‘n wedstryd, en nie die owerhede ingelig nie. Die Dolphins neem hulle plek in. Die Warriors sou teen die Titans speel vir ‘n plek in die eindstryd van Afdeling Een. Eddie Khoza van KSA sê ander spanne is tegemoet gekom toe hulle soortgelyke kwessies uitgelig het, maar die Warriors het dit nie gedoen nie.
# Rugby: Die Noordwes-universiteit se Arende het die verdedigende kampioen, die Vrystaatse Universiteit, 59-14 verpletter en hul tweede agtereenvolgende sege in die Varsitybeker se vierde ronde behaal. Die Universiteit van Pretoria se Tuks is weer op die wenpad nadat hulle die Sentrale Universiteit van Tegnologie 63-23 getroef het. Die Ikeys van Kaapstad het tien drieë gedruk in hulle spogoorwinning van 73-17 oor Wits. Intussen soek die Universiteit van Johannesburg steeds hul eerste oorwinning nadat hulle met 25-7 teen die Maties van Stellenbosch verloor het.
Ons bly by rugby: Wallis het ‘n dubbele terugslag beleef omdat sy vleuels, Josh Adams en Tom Rogers, nie Saterdag beskikbaar is vir die laaste ronde-wedstryd van die Sesnasiesreeks teen Engeland in Cardiff nie. Adams sukkel met ʼn dyspier-besering, terwyl Rogers sy duim gebreek het in die nederlaag van 35-29 teen Skotland en geopereer moet word. Wallis het sy vorige 16 toetse verloor terwyl Engeland sy afgelope drie wedstryde gewen het. Engeland het nog ʼn geringe kans om die Sesnasies te wen.
# Sokker: Manchester United se mede-eienaar, Jim Ratcliffe, sê die klub se geld sou teen Kersfees op gewees het as maatreëls nie ingestel is nie. ‘n Styging in sommige kaartjiepryse in die middel van die seisoen en die afdanking van honderde werknemers is onder die ongewilde maatreëls wat getref is. Ratcliffe het aan BBC Sport gesê hy is daarop ingestel om United die wêreld se winsgewendste klub te maak en om dit te doen, moes moeilike besluite geneem word:
# En tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is die vierde agtereenvolgende jaar deur na die ronde van 16 van die Indian Wells-meesterstoernooi. Die Spanjaard het die Kanadees Denis Shapovalov geklop. Die negende-gekeurde Australiër Alex de Minaur het Hubert Hurkacz van Pole geklop, terwyl die voormalige kampioen, Taylor Fritz van Amerika, geseëvier het oor Alejandro Tabilo van Chili. In die vroue-afdeling het die Australiese Ope-kampioen, Madison Keys van Amerika, die Belg Elise Mertens geklop en deurgedring na die vierde ronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….