Sportnuus 12:30
Bulletin Opskrifte
BULLETIN SPORTNUUS 7 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Gholf: Wenyi Ding van China en Jordan Smith van Engeland is die vroeë voorlopers in die Johannesburgse Ope op die Houghton-gholfklub na openingsrondes van 63, sewe onder baansyfer. Hulle is een hou voor die Suid-Afrikaners Malcolm Mitchell en Jayden Schaper, Marco Penge en Callum Tarren van Engeland, en die Duitser, Nicolai von Dellingshausen. Smith, wat weens beserings weke lank nie kon speel nie, sê hy is tevrede met sy begin:
# Rugby: Die Ierse kaptein, Caelan Doris, het van ‘n besering herstel en sal die span môre in Dublin teen Frankryk op die veld lei in die Sesnasies-toets tussen die twee boonste spanne op die punteleer. Die vleuel Mack Hansen is beseer, terwyl Jamie Osborne van heelagter na regtervleuel skuif. Die haker, Rob Herring, is op die bank in sy eerste toets vanjaar. Die tussentydse hoofafrigter, Simon Easterby, sê die span het dié week hard geoefen vir die verwagte rillertoets teen Frankryk.
Frankryk se losskakel, Romain Ntamack, en die regtervleuel Damian Penaud is intussen terug in die groep vir die wedstryd. Ntamack was geskors en Penaud is weggelaat vir die vorige toets teen Italië. Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het weer sewe voorspelers en een agterspeler op die bank gekies – dieselfde taktiek wat gewerk het in hul weghol-oorwinning van 73-24 oor Italië. Hy sê dit pas die profiel van hulle huidige beste spelers.
# Krieket: Pakistan se vorige toets-hoofafrigter, Jason Gillespie, beskryf sy opvolger, Aaqib Javed, as ‘n hanswors wat hom en die gewese witbal-afrigter, die Suid-Afrikaner Gary Kirsten, ondergrawe het sodat hy hulle rolle kon oorneem. Albei het laat verlede jaar bedank nadat hulle in April aangestel is. Javed het op sosiale media gesê Pakistan se onlangse swak spelpeil is te wyte aan ‘n gebrek aan deurlopendheid rondom afrigters en keurders. Gillespie sê Javed en die keurders moet die skuld kry vir die gasheer se swak vertoning in die Kampioenetrofee.
# En sokker: Die wêreldbeheerliggaam FIFA oorweeg ‘n voorstel om die mans-Wêreldbekertoernooi in 2030 uit te brei na 64 spanne. Dit word aangebied deur Marokko, Spanje en Portugal, met wedstryde in Argentinië, Paraguay en Uruguay. Die toernooi is reeds uitgebrei van 32 tot 48 spanne wanneer dit volgende jaar in Amerika, Mexiko en Kanada plaasvind. Fifa se president, Gianni Infantino, sê die uitbreiding verhoog inkomste en gee meer spanne die kans om te kwalifiseer. Hy noem ook die behoefte om die sport wêreldwyd uit te brei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….