Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS X (Maand) 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-bestuur wil hê die span moet vanjaar nog drie wedstryde speel om die skedule moeiliker te maak halfpad tussen die twee Wêreldbekertoernooie. Die tweemalige verdedigende kampioen het reeds 13 bevestigde afsprake, maar bedryfsbestuurder Charles Wessels sê hulle beplan ‘n wedstryd teen die Barbarians in Junie, sowel as twee toetse teen onbevestigde teenstanders. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê hulle besef dit gaan ‘n taai seisoen wees, maar hulle wil die spelers die kans gee om ervaring op te bou en hulle staal te wys.
# Krieket: Nieu-Seeland pak Indië Sondag in Doebai in die eindstryd van die Kampioenetrofee nadat die Swartpette Suid-Afrika met 50 lopies verslaan het in hulle halfeindstryd in Lahore, Pakistan. Honderdtalle deur Rachin Ravindra en Kane Williamson het die kampioen van 2000 gehelp om ‘n reuse 362 vir ses te behaal. Lungi Ngidi het drie paaltjies geneem. Die Proteas kon nie die vierste hoogste teiken in eendagwedstryde haal nie en is beperk tot 312 vir nege, ondanks David Miller se onoorwonne 100 van 64 balle.
Suid-Afrika se kaptein, Temba Bavuma, is teleurgesteld oor die nederlaag en sê hulle moes meer doelgerig lopies nagejaag het. Hy erken 363 was ʼn moeilike teiken en sê al hul kolwers moes hul kant bring in vennootskappe:
# Gholf: Verlede week se SA Ope-kampioen, Dylan Naidoo, lei ʼn sterk veld in die Johannesburgse Ope, wat vanogggend op die Houghton-gholfklub afgeslaan het. Die ervare Darren Fichardt is terug en wil slegs die derde speler word wat die toernooi meer as een keer wen nadat hy dit ook in 2017 beklink het. Ander voormalige kampioene sluit in Dan Bradbury, George Coetzee, Shubhankar Sharma en Haydn Porteous. Naidoo sê hy wil goed doen in hierdie toernooi:
# En laastens, sokker: Die eindstryd van volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika gaan die eerste keer ‘n rustyd-vertoning hê soos die Amerikaanse Super Bowl s’n. Die president van die wêreldbeheerliggaam Fifa, Gianni Infantino, sê ‘n aantal kunstenaars sal optree in die MetLife-stadion in New Jersey in Amerika, wat die toernooi saam met Kanada en Mexiko sal aanbied. Hy beloof die konsert sal gepas wees vir die wêreld se grootste sportgeleentheid. Die toernooi duur van 11 Junie tot 19 Julie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….