Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Nieu-Seeland kolf eerste teen Suid-Afrika in hulle Kampioeneliga-halfeindstryd in Lahore, Pakistan. Die wenner speel Sondag in die eindstryd teen Indië, wat Australië gister in Doebai met vier paaltjies verslaan het. Australië is uitgeboul vir 264, met kaptein Steve Smith wat 73 aangeteken het en Alex Carey 61. Mohammed Shami het drie paaltjies geneem. Virat Kohli se 84 van 98 balle het Indië gehelp om die teiken te bereik met elf balle oor.
# Motorsport: Die Suid-Afrikaanse span van Brian Baragwanath en mede-bestuurder Leonard Cremer se finale uitslag in die Dakar-tydren wat in Januarie in Saoedi-Arabië gehou is, is gediskwalifiseer. ‘n Brandstofmonster van hulle voertuig aan die einde van die eerste skof, het getoon dat dit nie aan regulasies voldoen nie. Verteenwoordigers van Century Racing Factory het aan ‘n verhoor gesê die bedoeling van die hoë-oktaan brandstof was nie om die prestasie te verbeter nie, maar om die enjin te beskerm. Baragwanath en Cremer was algeheel tiende.
Nog motorsport: Ferrari se voormalige tegniese direkteur, Enrico Cardile, mag eers in Julie vir Aston Martin begin werk. Dit volg nadat die Italiaanse span ‘n plaaslike hofsaak gewen het. Cardile het Ferrari in Julie verlede jaar verlaat en die twee spanne was sedertdien haaks oor sy begindatum by Aston Martin. Ferrari sê hy het reeds sy nie-mededingingsooreenkoms verbreek. Hy sê die doel van die betrokke bepaling in Cardile se kontrak was om te voorkom dat ander Formule Een-spanne ‘n onregverdige mededingende voordeel verkry.
# Gholf: Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het die Johannesburgse Ope se borge geloof omdat hulle die metro se internasionale aansien bevorder. Die toernooi, wat môre begin, sluit die tweede deel van die Europese Toerseisoen af. Meer as 100 spelers neem deel, gelei deur verlede week se Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Dylan Naidoo. Morero sê die toernooi het sedert 2007 van krag tot krag gegaan:
# En sokker: Die Franse polisie sê vandag se Kampioeneligawedstryd tussen Liverpool en Paris Saint-Germain word nie as ‘n hoë sekerheidsrisiko geag nie. Die eerste kragmeting in die ronde van 16 op die Parc des Princes is die eerste keer dat Liverpool na Parys terugkeer sedert 2022 se Kampioeneliga-eindstryd teen Real Madrid op die Stade de France in chaos gedompel is. Daardie wedstryd is met ‘n halfuur vertraag omdat ondersteuners gesukkel het om die stadion binne te gaan. Sowat twee-duisend ondersteuners van Liverpool gaan vandag se wedstryd bywoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….