Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Kampioenetrofee-toernooi het die uitspeelronde gehaal en slegs vier van die agt spanne bly oor. Indië het eerste geëindig in Groep A en Nieu-Seeland tweede. Die Proteas het Groep B gewen, gevolg deur Australië. Indië en Australië speel tans in die eerste halfeindstryd in Doebai, waar Australië eerste kolf. Suid-Afrika en die Swartpette sal sake môre uitspook in Lahore, Pakistan. Die eindstryd vind Sondag in Doebai of ‘n Pakistanse stad plaas, afhangend of Indië daarin speel.
# Sokker: Die gewese Bafana Bafana-doelskopper, Benni McCarthy, is aangestel as Kenia se nuwe hoofafrigter. Hy het Manchester United aan die einde van verlede seisoen verlaat waar hy ‘n eerstespan-afrigter was wat op doelskoppers gefokus het. Die 47-jarige McCarthy se vorige bestuurservaring was by Cape Town City en AmaZulu. Kenia bied 2027 se Afrikabekertoernooi aan saam met Tanzanië en Oeganda. McCarthy sê die Keniaanse span is ʼn slapende reus:
# Fietsry: Die Stad Kaapstad sê hy is slaggereed vir die 47ste Kaapstadse fietstoer – die wêreld se grootste fiets-tydren. Sowat 30-duisend fietsryers sal Sondag een van drie roetes aanpak, insluitend die tradisionele roete van 109-kilometer vanaf die Parade reg rondom die Kaapse Skiereiland. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die vroue-uitnodigingswedren van 78-kilometer en die seuns onder 17 se wedren sal in Vishoek wegspring en in Groenpunt eindig:
# Rugby: Die verdedigende kampioen, Ierland, hoop hulle kaptein, Caelan Doris, sal fiks wees om hulle in Saterdag se Sesnasies-kragmeting met Frankryk in Dublin aan te voer. Die bestuur sê hy herstel goed van sy kniebesering. Die onoorwonne Ierse span is bo aan die punteleer met Frankryk tweede na hulle Wallis en Italië geklop, maar teen Engeland verloor het. Na die naweek is daar slegs een ronde oor met ‘n ongekende derde agtereenvolgende titel vir die Iere op die spel.
# En ten slotte: Simone Biles, Max Verstappen en Carlos Alcaraz is vir die Laureus-wêreldsporttoekennings benoem. Biles, die wêreld se mees bekroonde gimnas, is benoem as sportvrou van die jaar saam met tennis se wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, en die atleet Sydney McLaughlin-Levrone. Die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, die tennis-ster Carlos Alcaraz, en die Olimpiese paalspringkampioen, Mondo Duplantis, is benoem as sportman van die jaar. Amerika se nasionale mans-basketbalspan en die F1-span, McLaren, is benoem as span van die jaar.