Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Jos Buttler sê hy gaan alle moontlikhede oorweeg oor sy toekoms as Engeland se witbalkaptein nadat sy span uit die Kampioenetrofee geboender is. Dit volg nadat hulle in Lahore, Pakistan, met agt lopies teen Afganistan verloor het. Dit was Engeland se derde agtereenvolgende teleurstelling onder Buttler se leierskap in beperkte boulbeurt-toernooie na die eendag-Wêreldbekertoernooi in 2023 en verlede jaar se T20-uitgawe. Buttler sê dit gaan ‘n tydjie neem om oor die pad vorentoe te besin:
Gewese spelers en kommentators glo intussen Indië het ‘n besliste voordeel omdat hy toegelaat word om al sy Kampioenetrofee-wedstryde in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate te speel. Dit gebeur terwyl die ander sewe deelnemers moet reis tussen drie stede in Pakistan, sowel as die VAE. Indië weier om in Pakistan te speel weens die jarelange politieke spanning tussen die buurlande. Die gewese Engelse speler en kommentator Jonathan Agnew sê dit maak ‘n klug van toernooie.
# Vervolgens, rugby: Die Springbok Vroue-sewes speel hierdie naweek teen Hongkong China en Tsjeggië in hul groepswedstryde van die Wêreld-uitdaagreeks in Kaapstad. Dit volg nadat hulle verlede seisoen hul plek in die Wêreldreeks aan China afgestaan het. ‘n Spanlid, Shiniqwa Lamprecht, sê om uit te val was ‘n skok, maar die reis om terug te keer na hul posisie begin Saterdag in Athlone. Sy het beloof die tuisskare kan verwag dat die span met ‘n werklike dringendheid sal speel.
# Gholfnuus: Die LIV-gholf-trio Dean Burmester, Charl Schwartzel en Branden Grace is deel van ʼn sterk veld vir die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap wat vandag op die Durbanse buiteklub begin. Altesaam 147 spelers sal meeding om prysgeld van 27,6-miljoen-rand. Suid-Afrikaners het die laaste ses jaar die kompetisie gewen. Die deelnemers sluit in Chris Paisley en Andy Sullivan van Engeland. Burmester, die verdedigende kampioen, is opgewonde om met wêreldklas-spelers mee te ding:
# Ons sluit af met tennis: Die eerste-gekeurde Rus, Daniil Medvedev, is die derde agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde van die Doebaise Kampioenskap. 2023 se kampioen het die Fransman Giovanni Mpetshi-Perricard uitoorlê. Medvedev kom nou teen die Nederlander Tallon Griekspoor te staan, wat die Fransman Ugo Humbert geklop het om sy 18de toervlak-kwarteindronde te haal. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het Karen Khachanov van Rusland verslaan om sy 350ste toervlak-oorwinning te behaal, terwyl die Italianer Matteo Berrettini met die Australiër Christopher O’Connell afgereken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….