Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugbynuus: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, het die stut Steven Kitshoff beskryf as ‘n ware spanspeler nadat hy gister sy uittrede aangekondig het. Die 33-jarige Kitshoff moes noodgedwonge uittree weens ‘n ernstige nekbesering. Hy het 83 toetse vir Suid-Afrika gespeel sedert sy debuut in 2016 en is ‘n tweemalige Wêreldbeker-kampioen. Erasmus sê Kitshoff se spanmaats en afrigters het reuse-respek vir hom oor sy werksetiek, en hy sal altyd ‘n goeie ambassadeur bly van dit waarvoor die Springbokke staan.
Die veteraan-Nieu-Seelandse senter Ma’a Nonu sal intussen tot die einde van die seisoen vir die Franse Top 14-klub Toulon speel. Die 42-jarige het die klub reeds twee keer in die verlede verteenwoordig. Hy het 103 toetse vir die All Blacks gespeel en was deel van die span wat die Wêreldbeker in 2011 en 2015 gewen het. Hy staan in vir Setariki Tuicuvu, Gabin Villiere en Antoine Frisch, wat almal beseer is. Nonu is in die span wat Saterdag teen Lyon speel. Toulon is tans tweede op die Top 14-punteleer.
# Vervolgens, krieket: Afganistan se afrigter, die gewese Engelse kolwer Jonathan Trott, sê sy spelers besef maar te goed dinge is nie reg in hulle land nie. Hy het reageer nadat sowat 200 Britse politici vroeër vanjaar gevra het Engeland moet vandag se Kampioenetrofee-wedstryd teen die Asiese land in Lahore, Pakistan, boikot. Hulle was bekommerd oor die Taliban-regime se onderdrukking van vroueregte, insluitend hulle deelname aan sport. Trott sê sy spelers het die vermoë om verandering teweeg te bring. Afganistan het die loot gewen en kolf eerste.
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, is onbepaald buite aksie nadat hy gister geopereer is vir ‘n gebreekte linkerhand. Die Spanjaard het sy hand Maandag beseer tydens ‘n oefening in sy geboorteland. Die 27-jarige renjaer het vroeër die maand ook ʼn operasie gehad nadat hy sy regterhand en -voet gebreek het in ʼn ongeluk in Maleisië. Martin se nuwe span, Aprilia, sê die jongste operasie was suksesvol en die hersteltyd sal in die komende dae bepaal word.
# Ons sluit af met sokker: Die Premierliga-wedloop om vir volgende seisoen se Kampioeneliga te kwalifiseer, raak spannend. Chelsea het Southampton op Stamford Bridge vier-nul afgeransel om op die Premierliga-ranglys te vorder ná slegs hul derde oorwinning in elf wedstryde. Aston Villa het vier-een teen Crystal Palace verloor, wat ʼn groot terugslag is vir hul poging om plek in die Kampioeneliga te kry. Brighton se kanse op ʼn Europese kwalifisering lyk beter nadat hulle met Bournemouth afgereken het en net drie punte kort om die topvier te haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….