Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met nuus van die Statebondspele: Suid-Afrikaanse swemmers het nog vyf medaljes ingepalm en die land se totaal in Glasgow tot 16 laat styg. Chad le Clos het sy 20ste Statebondspele-medalje ingepalm toe hy Span SA gehelp het om silwer te wen in die gemengde vier-maal-100-meter-aflos. Lara van Niekerk het goud gewen in die vroue-50-meter-borsslag, terwyl Aimee Canny silwer verower het in die vroue-200-meter individuele wisselslag. Die Paralimpiese atlete Danicka Vyncke en Nathan Hendricks het silwermedaljes in hul onderskeie S13-50-meter-vryslagitems gewen. Suid-Afrika se netbalspan het Noord-Ierland 78-30 geklop.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê byna die volle groep is fiks vir volgende naweek se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires. Ox Nché en Franco Mostert is nie deel van die span vir Suid-Amerika nie, maar spelers soos kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu is terug na beserings. Ses-en-twintig Springbokke vertrek Saterdag. Erasmus sê die fokus is nou heeltemal op Los Pumas:
Nog rugbynuus: Die ervare nommer agt, Aseza Hele, is terug in die Springbok-vroue se groep vir volgende maand se toer na Fidji. Sy het Meimaand se Afrikabekertoernooi en hierdie maand se twee toetse teen Amerika misgeloop na ‘n hand-operasie, en sal die eerste keer vir Suid-Afrika speel sedert haar briljante vertoning in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Die haker Lindelwa Gwala keer ook terug na ‘n kuitbesering. Die Bokke en die Fidjiana-15 speel op 8 en 15 Augustus in toetse in Suva en Lautoka.
# Gholf: Die Sonskyntoer brei verder uit in Afrika met die bekendstelling van die nuwe Rwandese Ope wat in September by die Kigali-gholfklub plaasvind. Beroepspelers van die toer en Rwanda, voorste amateurspelers en talle spelers van reg oor Afrika sal deelneem aan die toernooi met prysgeld van 2,5-miljoen-rand. Die toer het reeds toernooie in Zambië, Zimbabwe, Eswatini, Kenia en Uganda. Kommissaris Thomas Abt sê die Rwandese Ope is nog ‘n positiewe stap om aan Afrika se spelers geleenthede op die wêreldverhoog te bied.
# En sokker: Frankryk se pas-aanstelde nuwe hoofafrigter, Zinedine Zidane, sê hy is oorstelp nadat hy ‘n jarelange droom kon verwesenlik. Hy volg Didier Deschamps op, wat na die Wêreldbekertoernooi na 14 jaar vertrek het. Die 54-jarige Zidane het tussen 1994 en 2006 108 wedstryde vir Frankryk gespeel en word beskou as die land se beste speler ooit. Hy het die Spaanse reus Real Madrid voorheen afgerig en tussen 2016 en 2018 na drie agtereenvolgende Kampioeneliga-titels gelei, maar sê die Franse afrigtingspos is die enigste wat hy ooit wou hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….