Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die uitspraak oor Caster Semenya verwelkom in die Europese Hof vir Menseregte. Die hof het beslis dat die dubbele Olimpiese kampioen se reg op ‘n billike verhoor deur die Switserse Federale Hooggeregshof geskend is toe sy in 2020 haar appèlaansoek teen Wêreldatletiek se regulasies verloor het. Die departement se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê dit is ‘n kritieke oomblik in die stryd vir die waardigheid en menseregte van vroulike atlete met verskille in seksuele ontwikkeling:
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, kom môre in Wimbledon se eindstryd te staan teen die Amerikaner Amanda Anisimova. Die gewese wêreld-nommer-een van Pole het gemaklik met Belinda Bencic van Switserland afgereken terwyl Anisimova die wêreld se voorste speler, Aryna Sabalenka van Belarus, verslaan het. Dit is Swiatek én Anisimova se eerste Wimbledon-eindstryd. Die 23-jarige Anisimova sê dis ongelooflik om in die eindstryd te speel:
Die mans wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, sê intussen hy is 100-persent fiks vir vanmiddag se halfeindstryd teen die sewemalige-kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die 23-jarige Italianer het sy elmboog Maandag seergemaak tydens die vierderonde-wedstryd teen Grigor Dimitrov, maar oorleef toe die Bulgaar weens ‘n besering moes onttrek. Sinner het geen ongemak getoon toe hy Ben Shelton van Amerika in die kwarteindronde geklop het nie. Die 38-jarige Djokovic is ook beseer gedurende sy kwarteind-oorwinning oor die Italianer Flavio Cobolli.
# Rugby: Engeland se gewese kaptein, Owen Farrell, kan moontlik môre in Adelaide sy eerste wedstryd van die huidige Britse en Ierse Leeus-toer speel teen ‘n gesamentlike Australies-Nieu-Seelandse span. Die losskakel is op die bank gekies nadat hy ‘n week gelede ingevlieg is om ‘n beseerde speler te vervang. Dit is die 33-jarige se vierde Leeus-toer. Farrell het die laaste van sy 112 toetse gedurende 2023 se Wêreldbekertoernooi gespeel. Die Leeus het hulle eerste vier wedstryde gewen en môre is hulle laaste voorbereidingswedstryd voor die eerste toets teen die Wallabies.
# En motorsport: Die tweemalige Dakar-motorfietskampioen, Sam Sunderland, gaan in September probeer om in minder as 19 dae om die wêreld te ry. Die 36-jarige Brit sê hy besef dit gaan geestelik uitdagender wees as enigiets wat hy nog ooit gedoen het. Kevin en Julia Sanders het die rekord van 19-dae-agt-ure-25-minute in 2002 opgestel, maar die Guinness-wêreldrekords erken nie meer die prestasie nie omdat dit so gevaarlik is. Sunderland sal meer as een-duisend-600-kilometer per dag moet aflê om sy doelwit te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….