Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sewes-rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hulle het hul doelwitte bereik ondanks hul tweede plek in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika het in die eindstryd 19-12 verloor teen Argentinië, wat sy vierde agtereenvolgende titel in die toernooi ingepalm het. Die Blitsbokke het steeds ‘n kans om die wêreldreeks te wen, met twee rondes wat oorbly. Snyman sê hulle het die eindstryd verloor, maar in baie ander opsigte gewen:
Nuus van die 15-man-spel: Die Junior Springbokke het hul reeks van twee wedstryde teen Georgië afgeskop met ‘n oorwinning van 38-29 in Tbilisi. Die Suid-Afrikaanse Onder-20’s het ses drieë gedruk waarvan vier verdoel is, terwyl Georgië met vyf drieë geantwoord het, waarvan slegs twee verdoel is. Die Junior Bokke se afrigter, Kevin Foote, is bemoedig oor wat hy in die wedstryd gesien het, maar sê daar kort steeds werk aan hul verdediging in losgemale. Die twee spanne speel Vrydag in die laaste wedstryd.
# Nou krieket: Suid-Afrika kan ‘n reusestryd verwag in môre se Kampioenetrofee-wedstryd teen Australië in Rawalpindi, Pakistan. Die Proteas het beïndruk toe hulle Vrydag deeglik met Afganistan afgereken het in hulle eerste wedstryd van die toernooi en met 107 lopies gewen het. Maar Australië het Saterdag die geskiedenisboeke herskryf toe hulle Engeland se reuse-teiken van 352 in Lahore gehaal het. Die Baggy Green het met vyf paaltjies gewen met 15 balle oor te danke aan Josh Inglis se honderdtal en vyftigtalle deur Marnus Labuschagne en Alex Carey.
# Laastens, sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het herbevestig dat die video-skeidsregterstelsel teen einde April in Suid-Afrika ingestel gaan word. Hy het aan SABC Sport gesê dit sal gereed wees voor die einde van die Premierliga-seisoen. McKenzie beklemtoon die tegnologie is daarop gemik om skeidsregters se beslissings te verbeter, korrupsie uit te roei en integriteit in Suid-Afrikaanse sokker te herstel:
Liverpool het intussen ‘n voorsprong van elf punte boaan die Premierliga-punteleer nadat hy Manchester City 2-0 verslaan het op die Etihad-stadion. Mohamed Salah het die Reds se eerste doel aangeteken, sy 30ste van die seisoen, voordat Dominik Szoboszlai die tweede ingeskop het om al drie punte te verseker. Liverpool se hoofafrigter, Arne Slot, sê in enige ander liga sou ʼn voorsprong soos hierdie baie gemaklik wees, maar nie in die Premierliga nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….