Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het ‘n ondersoek gelas na Boks Suid-Afrika se geldsake na die onthulling dat miljoene rand uit die sport se welwillendheidsfonds geplunder is. Dit is meer as vier dekades gelede gestig om oud-boksers by te staan wat finansieel sukkel. ’n Klein persentasie van plaaslike boksers se prysgeld is sedertdien afgetrek en aan die fonds oorbetaal, wat nou gebruik word om beseerde boksers te help. McKenzie wil hê die ondersoek moet onmiddellik begin en sê die oortreders moet tronk toe gaan.
# Gholf: Lucie Malchirand van Frankryk het met ‘n agt onder baansyfer 64 geopen en loop met vier houe voor in die Dames Ope op die Durbanvillse gholfklub in Kaapstad. Die 22-jarige speler probeer haar eerste Sonskyn-damestoer-oorwinning opraap. Malchirand se naaste teenstander is die Switser Nobuhle Dlamini wat met van vyf onder-67 geopen het, gevolg deur die Suid-Afrikaner Cara Ford op vier onder-68. Die verdedigende kampioen, Gabrielle Venter van Suid-Afrika, het 73 aangeteken.
# Sokker: Daar sal nie in April ‘n Suid-Afrikaanse derbie in die CAF Kampioeneliga se kwarteindronde wees nie. Orlando Pirates en Mamelodi Sundowns het mekaar vermy in die trekking in Katar. Pirates, wat bo-aan groep B geëindig het, kom te staan teen Mouloudia Alger van Algerië, terwyl Sundowns Esperance van Tunisië pak in ‘n herhaling van verlede jaar se halfeindstryd. Die verdedigende kampioen, Al Ahly van Egipte, meet kragte met Al Hilal van hulle buurland, Soedan, en Pyramids van Egipte speel teen Royal Armed Forces van Marokko.
Intussen het Manchester City se hoofafrigter, Pep Guardiola, gesê niks hou vir ewig nie. Hy het reageer nadat sy span uit die Kampioeneliga geskakel is toe hulle 6-3 gemiddeld teen Real Madrid verloor het. Dit was die eerste keer onder sy leiding dat hulle nie die laaste 16 kon haal nie. City het maar in die 22ste plek in die ligaronde geëindig. Guardiola erken hulle is die grootste deel van die seisoen oortref, maar wil die span na ‘n nuwe era lei nadat ses nuwe spelers in Januarie gekontrakteer is.
# En laastens, rugby: Gareth Anscombe is op losskakel gekies toe Wallis se waarnemende afrigter, Matt Sherratt, verskeie veranderings aangebring het vir môre se Sesnasieswedstryd teen Ierland. Max Llewellyn begin op senter nadat hy en Anscombe dié week na die groep ontbied is. Ellis Mee maak sy toetsbuiging op vleuel en kaptein Jac Morgan skuif na toekant-flank. In die voorry kry Nicky Smith sy eerste kans in die opdrafspan vanjaar, sowel as Elliot Dee op haker. WillGriff John speel sy eerste Sesnasiestoets op vaskop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….