Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ‘n groep van 26 spelers genooi om volgende maand aan die eerste persoonlike kamp en virtuele belyningskamp deel te neem. Die groep bestaan uit 20 oorsese spelers, insluitend Pieter-Steph du Toit in Japan en Handrè Pollard in Engeland, asook ses wat in Suid-Afrika speel. Die Stormers-senter Jonathan Roche is die eerste keer uitgenooi na ‘n belyningskamp. Benewens dié groep is 56 spelers ook na die persoonlike kamp genooi, wat as voorbereiding vir die seisoen sal dien.
Die Franse losskakel Matthieu Jalibert is intussen siek en loop Sondag se Sesnasies-kragmeting met Italië in Rome mis. Hy was in die opdrafspan in die tweederonde-wedstryd teen Engeland nadat Romain Ntamack geskors is, maar het nie beïndruk nie en is halfpad deur die tweede helfte vervang. Die heelagter Thomas Ramos het op losskakel geoefen. Hoofafrigter Fabian Galthie kondig sy span môreoggend aan. Frankryk het Wallis in die eerste ronde oortuigend verslaan voor hulle in die volgende ronde teen Engeland verloor het.
# Nou sokker: Die dissiplinêre komitee van die Spaanse Federasie het Jude Bellingham van Real Madrid vir twee La Liga-wedstryde geskors nadat hy weens teëpratery afgestuur is. Die skeidsregter, José Munuera Montero, het die Engelse internasionale speler Saterdag ‘n rooikaart gegee tydens die kampioen se gelykop-stryd van 1-elk teen Osasuna. Bellingham hou vol dit was uit frustrasie en hy het nie die skeidsregter beledig nie. Hy sal nou die wedstryde teen Girona op 23 Februarie en teen Real Betis op 2 Maart misloop.
Manchester United se inkomste het intussen in die vorige finansiële kwartaal met 12-persent gedaal, hoofsaaklik weens die vertrek van die hoofafrigter, Erik ten Hag. Die Engelse klub toon van Oktober tot Desember ‘n inkomste van 4,6-miljard-rand teenoor 5,3-miljard die vorige jaar. Ten Hag se afdanking het United glo 243-miljoen-rand gekos, terwyl daar ook ‘n afname van 42-persent in uitsaai-inkomste was. Kommersiële inkomste het wel met 18,5-persent gestyg.
# Ons sluit af met tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die kwarteindronde van die Katarse Ope in Doha nadat hy die Italiaanse kwalifiseerder Luca Nardi geklop het. Die Spanjaard kom nou teen die Tsjeg Jiri Lehecka te staan wat Fabian Marozsan van Hongarye verslaan het. Die Italianer Matteo Berrettini het die eerste keer sedert Oktober agtereenvolgende oorwinnings op die ATP-toer behaal en die Nederlander Tallon Griekspoor getroef. Die Brit Jack Draper, Daniil Medvedev van Rusland en die Australiër Alex de Minaur is ook deur na die kwarteindronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….