Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Suid-Afrika pak Australië, Engeland en Afganistan in Groep B van die Kampioenetrofee wat môre in Pakistan begin. Groep A bestaan uit die gashere, Indië, Nieu-Seeland en Bangladesj. Elke span speel een keer teen die ander in die groep en verdien twee punte vir ‘n oorwinning en een punt vir wedstryde wat nie ‘n uitslag oplewer nie. Die boonste twee spanne in elke groep kwalifiseer vir die halfeindstryde. Die Proteas se eerste wedstyd is Vrydag teen Afganistan en die eindstryd word op 9 Maart gespeel.
# Vervolgens, motorsport: Drie Suid-Afrikaanse motorfietsjaers verteenwoordig die land in 2025 se Wêreldkampioenskap wat op 2 Maart in Thailand begin en op 16 November in Valencia, Spanje, ten einde loop. Die tiener Ruche Moodley, wat in Gqeberha gebore is, maak sy buiging in Moto3. Die 18-jarige jaer is die seun van die voormalige Suid-Afrikaanse superfietskampioen, Arushen Moodley. Hy sluit nou aan by Brad Binder, wat in MotoGP meeding, en sy broer, Darryn, in Moto2, wat Suid-Afrika se verteenwoordiging in al drie afdelings van die seisoen van 22 wedrenne voltooi.
# Sokkernuus: Die verdedigende kampioen, Orlando Pirates, speel volgende maand teen SuperSport United in die kwarteindronde van die Nedbankbeker. Die Buccaneers gaan probeer om ‘n derde agtereenvolgende keer die trofee in te palm. Kaizer Chiefs, wat mik na hulle eerste trofee sedert 2015, pak Stellenbosch FC, terwyl Durban City teen Marumo Gallants speel. Mamelodi Sundowns se teenstander is nog nie bevestig nie. Die wenner tussen Royal AM en Milford FC speel teen Sekhukhune United in die ronde van 16.
# Tennisnuus: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, sê die meerderheid spelers voel Jannik Sinner se ligte skorsing is onregverdig en die groot name in sport word voorgetrek. Die Italiaanse wêreld-nommer-een het ‘n onmiddellike skorsing van drie maande aanvaar nadat hy ʼn ooreenkoms met die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport bereik het oor sy twee positiewe opkikkertoetse verlede jaar. Djokovic sê die stelsel moet hersien word om te keer dat spelers laer op die punteleer anders behandel word:
# Ons sluit af met fietsry: Die wenner van die Tour de France in 2018, Geraint Thomas (ghê-RAAINT) tree aan die einde van die seisoen uit. Die 38-jarige Wallieser het in 2008 en 2012 Olimpiese goud in spanagtervolging gewen, en het ook drie wêreldtitels ingepalm. Thomas durf vanjaar die toer in ‘n ondersteunende rol aan vir sy Britse span, INEOS (ie-nie-JOS). Hy beplan dan in om September aan die Toer van Brittanje deel te neem voordat hy uitspan. Volgens Thomas wil hy na sy uittrede aan Strictly Come Dancing deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….