Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê die ooreenkoms vir die nuwe vierjaar-borgskap van Monster Energy sal bykomende finansiële steun verleen. Die provinsiale unies het in Desember ‘n aanbod verwerp van die Ackerley-sportgroep in Seattle, Amerika, vir ‘n aandeel van 20-persent in SA-Rugby se kommersiële regte-maatskappy, wat die waarde van sy kommersiële bedrywighede verhoog. Alexander sê dit is ‘n groot probleem om nie ‘n reserwefonds te hê nie:
Die Stormers se Springbok-losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezulu, glo intussen steeds hulle kan die uitspeelronde van die Verenigde Rugbykampioenskap haal. Hulle is nou tiende op die punteleer met sewe rondes oor, en binne bereik van die eerste agt wat na die volgende ronde deurdring. Feinberg-Mngomezulu hoop hy sal gou van sy besering herstel en sy span help om hul doelwit te bereik. Hy sê hulle is egter nie paniekerig nie. Die Stormers se volgende wedstryd is op 1 Maart teen die Bulle in Pretoria.
# Gholf-nuus: Die Suid-Afrikaner Wilco Nienaber het sy tweede NTT DATA Pro-Am-titel opgeraap toe hy met sewe houe gewen het op Fancourt in George in die Wes-Kaap. Hy is nou deel van ‘n uitgelese groep van slegs vier spelers wat die titel twee keer kon wen in die toernooi se 30-jarige bestaan. Die ander drie is Nick Price, Darren Fichardt en Oliver Bekker. Nienaber se landgenoot, Jean-Paul Strydom, was tweede op 20 onder na 66 in die laaste ronde. In die vroueafdeling het nog ʼn Suid-Afrikaner, Danielle du Toit, die titel in die uitspeelronde gewen en haar eerste Sonskyn-damestoertitel gebuit.
# Vervolgens, tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, se skorsing van drie maande ontlok steeds uiteenlopende menings in die tenniswêreld. Die Italianer het die skorsing aanvaar nadat hy in Maart verlede jaar twee keer positief getoets het vir geringe spore van ʼn verbode middel. Die vroue se wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, sê die stelsel skrik spelers te veel af. Nommer-drie, Coco Gauff van Amerika, hoop die maatreël is om die sport te beskerm en nie spelers uit te vang nie. Nog ʼn Amerikaner, Jessica Pegula, reken die proses is heeltemal gebroke.
Die voormalige kampioen, Belinda Bencic, wat ses agtereenvolgende wedstryde gewen het, is intussen deur na die tweede ronde van die Dubaise kampioenskap. Sy het die Japannese kwalifiseerder, Aoi Ito afgeransel. Elina Svitolina van Oekraïne het die Rus, Anna Kalinskaya, in skoon stelle verslaan terwyl die Brit, Emma Raducanu, met Maria Sakkari van Griekeland afgereken het. Karolina Muchova van die Tsjeggiese Republiek, die Amerikaner Emma Navarro, en Paula Badosa van Spanje is ook deur na die tweede ronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….