Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met heelwat krieketnuus: Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, sê sekere aspekte van hul spel moet verbeter voor die Kampioenetrofee volgende week in Pakistan begin. Pakistan het Suid-Afrika gister in hul Drienasieswedstryd in Karatsji met ses paaltjies verslaan en daarmee hul plek in môre se eindstryd teen Nieu-Seeland bespreek. Die Proteas begin hul aanslag in die kompetisie volgende Vrydag teen Afganistan. Bavuma sê hulle sal ‘n veelsydige vertoning moet lewer in moeilike kolftoestande:
Vyf spelers van die kampioen, MI Cape Town, is intussen ingesluit in die SA20 se span van Seisoen 3, wat aangevoer word deur Aiden Markram van Sunrisers Eastern Cape. Die Kaapstad spelers is Ryan Rickelton, Dewald Brevis, George Linde, Kagiso Rabada en Trent Boult. Paarl Royals word verteenwoordig deur Lhuan-dré Pretorius, David Miller en Joe Root. Die res van die span bestaan uit die speler van die toernooi, Marco Jansen, en sy spanmaat van Sunrisers, Richard Gleeson. Donovan Ferreira van Joburg Super Kings is twaalfdeman.
Die uiters gewilde SA20 sal intussen minstens die volgende twee seisoene nie vergroot word nie. Oproepe vir nog ‘n span, sentraal geleë in Bloemfontein of Kimberley of noordwaarts in Limpopo, het toegeneem na die welslae van die eerste drie seisoene. Die kompetisie se kommissaris, Graeme Smith, sê hulle is kontraktueel verbind tot ses spanne vir die eerste vyf seisoene. Hy wil hê die huidige spanne moet hulle voete vind, hulleself vestig en groei. Die vierde seisoen begin op 26 Desember vanjaar.
# Vervolgens, rugby: Die Springbok-staatmaker Frans Malherbe word hierdie naweek die mees ervare Stormers-speler wanneer die span op Ellispark in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Leeus te staan kom. Die 33-jarige stut draf die 150ste keer vir die Stormers uit nadat hy sy buiging in 2011 gemaak het. Hy is ook een van net ‘n paar spelers wat sedert skoolvlak vir dieselfde span speel. Die tweemalige Wêreldbeker-wenner het al in 70 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf.
# Ons sluit af met tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, se doelwit van ʼn vierde agtereenvolgende Katarse Ope-titel is steeds moontlik nadat sy na die kwarteindronde in Doha deurgedring het. Die wêreld-nommer-twee van Pole het die Tsjeg, Linda Noskova geklop om haar 14de opeenvolgende wedstryd in die toernooi te wen. Swiatek kom nou teen Elena Rybakina van Kazakstan te staan wat die Slowaak Rebecca Sramkova verslaan het. Jelena Ostapenko van Letland en die Amerikaner Jessica Pegula het ook hul onderskeie wedstryde gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….