Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die voormalige Springbok-losskakel, Franco Smith, is luidens berigte een van die afrigters wat Warren Gatland kan vervang as hoofafrigter van Wallis nadat hy verwyder is na 14 agtereenvolgende nederlae. Cardiff se afrigter, Matt Sherrat, sal waarneem tot aan die einde van die Sesnasies-toernooi. Ander moontlike opvolgers is Ierland se tussentydse afrigter, Simon Easterby, en die voormalige Wallabie-afrigter, Michael Cheika. Die 52-jarige Smith het tussen 1996 en ’99 18 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel waarna hy onder meer die Cheetahs en Italië afgerig het. Hy rig tans Glasgow Warriors af.
Amptenare van die Sesnasies het intussen Frankryk se plan verydel vir die losskakel Romain Ntamack om ‘n deel van sy skorsing by sy klub, Toulouse, uit te dien. Hy is gestraf na sy rooikaart vir vuilspel teen Wallis in die eerste ronde. Ntamack het reeds die nederlaag teen Engeland misgeloop en Frankryk het gehoop hy sal beskikbaar wees vir volgende naweek se wedstryd teen Italië. Die organiseerders sê egter sy status as premierspeler vir Frankryk beteken hy sou buitendien nie vir Toulouse gespeel het nie.
# Vervolgens, krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc het om persoonlike redes onttrek aan die Kampioenetrofee wat volgende week in Pakistan begin. Dit beteken Australië sal die toernooi aanpak sonder sy hele snelboulaanval wat die Wêreldbekertoernooi help wen het. Dit volg nadat Pat Cummins, Josh Hazlewood en Mitchell Marsh reeds weens beserings moes onttrek, terwyl Marcus Stoinis uitgetree het. Steve Smith sal die span aanvoer in Cummins se afwesigheid.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Real Madrid, het Manchester City 3-2 verslaan in die eerste ronde van hulle Kampioeneliga-uitspeelstryd op die Etihad-stadion. Erling Haaland het eerste verdoel vir City, maar Kylian Mbappé het gelyk gemaak. Dit het gelyk of Haaland die wedstryd vir City sou beklink met ‘n strafskop, maar Brahim Diaz het kort voor die einde die gelykmaker aangeteken voor Jude Bellingham die wendoel aangeteken het. PSG, Juventus en Borussia Dortmund het ook gewen. Madrid se bestuurder, Carlo Ancelotti, is tevrede:
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, en nommer drie, Coco Gauff van Amerika, is in die tweede ronde van die Katarse Ope in Doha uitgeskakel. Die Rus Ekaterina Alexandrova het Sabalenka geklop terwyl Marta Kostyuk van Oekraïne vir Gauff verslaan het. Die Italianer Jasmine Paolini, wat verlede jaar se naaswenner op Wimbledon en die Franse Ope was, het Caroline Garcia van Frankryk verslaan. Die Amerikaner Jessica Pegula het Elina Svitolina van Oekraïne geklop en Ons Jabeur van Tunisië het Qinwen Zheng van China uitgeskakel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….