Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met hokkie: Die Suid-Afrikaanse manspan het hul eerste medalje ooit gewen toe hulle België ses-vyf verslaan het in die stryd om die bronsmedalje in die binnenshuise Wêreldbekertoernooi in Porec, Kroasië. Mustapha Cassiem het ‘n driekuns behaal, sy broer, kaptein Dayaan Cassiem, het twee keer doele aangeteken, en Hans Neethling het ‘n strafdoel behaal. Die Suid-Afrikaanse vrouespan het Australië drie-twee verslaan om negende te eindig. Duitsland se mans en Pole se vroue is as kampioene gekroon.
# Nou netbal: Engeland het Suid-Afrika in die Copper Box-arena in Londen 61-55 geklop om die eerste keer die Nasiesbeker te buit. Suid-Afrika het flink weggespring en teen die einde van die eerste kwartier 15-12 voorgeloop. Jess Thirlby se span het egter hul sokkies opgetrek en die oorwinning behaal. Uganda het die uitspeelstryd om derde plek gewen deur Malawi 50-45 te klop. Die Protease se afrigter, Jenny van Dyk, sê hulle is teleurgesteld met die uitslag, maar het alles gegee:
# Vervolgens, krieket: Die Titans se snelbouler, Corbin Bosch, is aangewys as plaasvervanger vir die beseerde Anrich Nortjé in die Protea-groep vir die komende Kampioenetrofee in Pakistan. Die 30-jarige Bosch het sy eendagdebuut in Desember gemaak. Die 18-jarige Kwena Maphaka is ook ingesluit as reisende reserwe. Bosch en Maphaka, en die kolwer Tony de Zorzi, het gister na Karatsji vertrek om by die groep aan te sluit vir die res van die drienasies-eendagreeks teen Pakistan en Nieu-Seeland.
# Nuus van die gholfbaan: Jamie Rutherford van Engeland het sy eerste oorwinning op die Sonskyntoer behaal toe hy die Kaapstadse Ope by die Royal Cape Gholfklub met twee houe gewen het. Hy het in winderige toestande 69 in die laaste ronde behaal om op 14 onder baansyfer te wen. Die Suid-Afrikaner Keenan Davidse is tweede op 12 onder met ‘n laaste ronde van 67, terwyl die Amerikaner Matt Oshrine derde is. Rutherford sê hy is tevrede dat sy bestendige spel vrugte afgewerp het:
# Ons sluit af met tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het die eerste binnenshuise hardebaan-titel van sy loopbaan behaal toe hy die Rotterdamse Ope in Nederland gewen het. Die 21-jarige Spanjaard het die Australiër Alex de Minaur 6-4, 3-6, 6-2 geklop om sy 17de toer-sege te behaal. Hy is die eerste Spaanse kampioen in die toernooi se geskiedenis van 52 jaar. Alcaraz sê hy het baie selfvertroue gekry na sy vertoning in die toernooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….