Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, is steeds op koers na sy derde SA20-titel. Hulle het Joburg Super Kings met 32 lopies verslaan in die elimineerder in Centurion. Kaptein Aiden Markram het ‘n onoorwonne 62 bygedra en Sunrisers het 184 vir ses aangeteken. Hulle het Super Kings daarna beperk tot 152 vir sewe. Sunrisers pak Paarl Royals vandag in die tweede kwalifiseerder vir ʼn plek in Saterdag se eindstryd teen MI Cape Town. Markram sê hulle het ‘n byna perfekte vertoning gelewer:
# Rugby is vogende aan die beurt: Die Cheetahs se gewese slot en afrigter, Rory Duncan, is aangestel as die unie se nuwe uitvoerende hoof. Die 47-jarige volg Ross van Reenen op, wie se driejaar-termyn in November geëindig het. Duncan het tussen 2006 en 2008 vir die Cheetahs gespeel en ook die Haaie, die EP Kings en ‘n Japannese klub verteenwoordig. Hy het die Vrystaatse span van 2014 tot 2018 afgerig voor hy die Engelse klub Worcester Warriors se breier geword het. Duncan wil fokus op die unie se langtermyn-volhoubaarheid en die versterking van sy internasionale deelname.
Die Springbok-vleuel, Canan Moodie, speel intussen Saterdag die 50ste keer vir die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Stormers in Kaapstad. Dit is dieselfde stad waar hy in 2022 sy buiging vir die Pretoriase unie se Curriebekerspan teen Westelike Provinsie gemaak het. Die 22-jarige het in die Boland grootgeword. Die Bulle is tans derde op die VRK-punteleer nadat hulle ses van hulle agt vorige wedstryde gewen het terwyl die Stormers 12de is na vyf nederlae in nege wedstryde.
# Ons loer in by gholf: Die Suid-Afrikaner Daniël van Tonder lei ʼn sterk groep spelers vir die Kaapstadse Ope wat vandag op Royal Cape begin het. Sy agtereenvolgende oorwinnings op die Sonskyn-toer die afgelope twee weke maak hom ʼn krag om mee rekening te hou. Die spelers sluit gewese kampioene in soos die Suid-Afrikaner JC Ritchie, Benjamin Follett-Smith van Zimbabwe en die Ier, Liam Nolan. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Martin Vorster, hoop om voort te bou op sy onlangse goeie spelpeil:
# Ons sluit af met motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, kan nie verder deelneem aan voorseisoense toetse in Maleisië nie en sal in Europa geopereer word. Dit volg op ‘n ernstige ongeluk op die eerste dag op die baan in Sepang. Die Spanjaard het sy hand en voet gebreek nadat hy van sy Aprilia-motorfiets geval het. Hy het vroeër die dag ongedeerd weggestap van nog ‘n ongeluk. Martin is nou gewikkel in ‘n stryd om betyds te herstel voor die eerste Grand Prix van die seisoen op 2 Maart in Thailand plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….