Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: MI Cape Town het Paarl Royals met 39 lopies verslaan in die eerste kwalifiseerder van die SA20 op St Georgepark in Gqeberha, en die eerste keer ooit die eindstryd gehaal. MI Cape Town het op 199 vir vier geëindig na Ryan Rickelton en Rassie van der Dussen se aanvangsvennootskap van 87, waarna hulle Royals vir 160 uitgeboul het. Royals kan steeds die eindstryd haal in môre se tweede kwalifiseerder teen die wenner van vandag se elimineerder tussen Sunrisers Eastern Cape en Joburg Super Kings.
# Rugby is volgende: Die Bulle se skrumskakel, Bernard van der Linde, het ‘n tweejaar-kontrak onderteken met die Engelse klub Bath vanaf die einde van die seisoen. Die 24-jarige het slegs vier Curriebekerwedstryde vir die Blou Bulle gespeel sedert sy aankoms in 2022 en wou graag meer speeltyd kry. Bath word afgerig deur die gewese hulpafrigter van die Bulle en die Springbokke, Johann van Graan, wat meen die 24-jarige Van der Linde het reuse-potensiaal. Hy gaan na verwagting die Haaie-speler Louis Schreuder vervang, wie se kontrak die einde van die seisoen verstryk.
# Hokkie: Die Suid-Afrikaanse vrouespan se hoop om die FIH Binnenshuise kwarteindronde in Kroasië te haal, hang aan ‘n dun draadjie. Die wêreldkampioen, Oostenryk, het hulle gister tien-nul afgeransel en hulle kon nog nie ‘n Groep B-wedstryd wen nie. Hulle moet môre hul wedstryd teen Pole wen om in die stryd te bly. Suid-Afrika se manspan kon nie hul wenlopie in Groep A volhou nie en Oostenryk het hulle met agt-ses verslaan. Hulle sal môre teen Pole sake uitspook vir die tweede plek.
# Vervolgens, tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Simona Halep, het haar uittrede aangekondig en sê haar liggaam laat haar nie toe om verder mededingend te speel nie. Die 33-jarige Roemeen het haar besluit op die Transsilvaniese Ope bekendgemaak nadat sy in die eerste ronde teen die Italianer Lucia Bronzetti verloor het. Halep, ʼn tweemalige Grand Slam-kampioen, is in Augustus 2022 vir vier jaar geskors weens opkikkergebruik. Dis tot nege maande verminder nadat sy verlede jaar na die Hof vir Arbitrasie in Sport geappelleer het. Halep het tydens haar loopbaan 22 WTA-toer-titels gewen.
# Ons sluit af met sokker: Die gewese Engelse speler Paul Merson waarsku Manchester United se hoofafrrigter, Ruben Armorim, kan sy werk verloor oor sy hantering van Marcus Rashford. Die voorspeler, wat 60 wedstryde vir Engeland gespeel het en 287 vir United, is pas op ‘n leenooreenkoms na Aston Villa nadat Amorim sedert middel Desember geweier het om hom te kies omdat hy glo nie sy kant bring nie. Merson sê as Rashford by Villa weer op dreef kom en United bly sukkel, sal Amorim dalk sy optrede aan sy werkgewers moet verduidelik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….