Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Gemengde gevegskuns is vandag eerste aan die beurt: Die UFC se middelgewig-wêreldkampioen, Dricus du Plessis, wat Sondag in Sydney, Australië, weer teen die Amerikaner Sean Stricland te staan kom, hoop om die byeenkoms later vanjaar na sy vaderland, Suid-Afrika, te bring. Du Plessis het Strickland in Januarie verlede jaar geklop om die wêreldtitel in te palm, en het dit in Augustus verdedig teen die Nieu-Seelander Israel Adesanya. Hy glo die geleentheid sal een of ander tyd na Suid-Afrika kom, en hoop dit gebeur vroeër eerder as later.
# Krieket is volgende: ‘n Plek in Sondag se eindstryd van die SA20 is vandag op die spel in die eerste kwalifiseerder tussen die bure MI Cape Town en Paarl Royals in Gqeberha. Die wenner kan agteroor sit en wag om uit te vind wie sy teenstander op die Wanderers gaan wees, terwyl die verloorder nog ‘n kans kry om deur te dring. Daardie span kom in die tweede kwalifiseerder te staan teen die wenner van môre se elimineerder tussen Joburg Super Kings en Sunrisers Eastern Cape in Centurion. Die wenner kry prysgeld van 34-miljoen-rand en die naaswenner 16,25-miljoen.
# Ons maak ‘n draai by rugby: Die Stormers-slot, JD Schickerling, sal Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-derbie teen die Bulls in Kaapstad misloop. Hy het verlede maand ‘n skouerbesering opgedoen tydens die nederlaag teen Leinster in Dublin. In Schickerling se afwesigheid sal Salmaan Moerat waarskynlik saam met Ruben van Heerden in die tweede ry uitdraf. Intussen sê hulpafrigter Norman Laker dat Manie Libbok, wat sy knie teen Leinster beseer het, moontlik beskikbaar sal wees nadat hy ʼn paar dae gerus het.
# Vervolgens, hokkie: Die Suid-Afrikaanse mans het goed weggespring in die FIH binnenshuise Wêreldbekertoernooi in Poreč toe hulle die gashere, Kroasië, in Groep A met agt-ses verslaan het. Kaptein Dayaan Cassiem, sy broer Mustapha wat vier bygedra het, en Hans Neethling se driekuns het die belangrike oorwinning op die eerste dag verseker. Intussen het die Suid-Afrikaanse vrouespan en Thailand in hul openingswedstryd gelykop geëindig met vier elk. Suid-Afrika, wat die skouspel in 2023 suksesvol aangebied het, is sesde in die mansafdeling en vierde in die vroueafdeling.
# Ons sluit af met swem: Oscar Chalupsky, wat reeds twaalf keer die branderski-wêreldkampioen was, beplan om die komende naweek die jaarlikse Midmar-myl in KwaZulu-Natal saam met sy 87-jarige pa, Paul, aan te pak. Chalupsky seëvier steeds ondanks teëspoed sedert hy in 2019 met beenmurgkanker gediagnoseer is en dokters hom ses maande gegee het om te leef. Hy sê hy voel goed en die oefening gaan ook goed. Chalupsky sê dit was maklik om sy pa te oortuig om aan die ikoniese oopwatergeleentheid deel te neem. Paul Chalupsky sal die oudste tussen die geraamde 12-duisend swemmers wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….