Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Slegs vier wedstryde bly oor in vanjaar se SA20. Die twee voorste spanne op die punteleer, MI Cape Town en bure Paarl Royals, speel môre in Gqeberha in die eerste kwalifiseerder. Die wenner gaan regstreeks deur na Saterdag se eindstryd op die Wanderers. Die verloorspan kry ‘n verdere kans om die eindstryd te bereik in Donderdag se tweede kwalifiseerder in Centurion. Hulle speel teen die wenner van Woensdag se elimineerder tussen Joburg Super Kings en die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, ook in Centurion.
Nog krieketnuus: Die verdedigende kampioen, Indië, het Suid-Afrika met nege paaltjies geklop om die o.19-vroue se T20 Wêreldbeker-eindstryd in Kuala Lumpur te wen. Die 19-jarige Gongadi Trisha het drie paaltjies geneem en Suid-Afrika tot 82 beperk nadat sy die loot gewen en gekies het om eerste te kolf. Trisha het geantwoord met ‘n onoorwonne 44 van 33 balle terwyl Indië die teiken in 11,2 boulbeurte gehaal het. Trisha het met 309 lopies as die hoogste puntemaker van die toernooi geëindig en is as die Speler van die Wedstryd en die Speler van die Toernooi aangewys.
# Netbal: Suid-Afrika het die gasvrouland, Engeland, Sondagaand by die Motorpoint-arena in Nottingham met 61-59 geklop en is die enigste onoorwonne span in die Nasiesbeker. Die twee spanne was in die eerste driekwart van die wedstryd gelykop, maar Suid-Afrika wat vyfde gekeur is, het in die laaste 15 minute sokkies opgetrek en die vierde gekeurde Engeland gewen. Suid-Afrika het die aanvangswedstryd teen Uganda met 75-40 gebuit. Engeland kom volgende teen Uganda te staan terwyl Suid-Afrika en Malawi Saterdag in die finale groepwedstryde kragte meet.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Daniel van Tonder het die MyGolfLife Ope op die Pecanwood Gholf- en Buiteklub in Noordwes met twee houe gewen vir sy vierde Sonskyntoer-titel van die seisoen. Hy het met 67 geëindig om op 27 houe onder baansyfer klaar te maak en sy tweede oorwinning in twee weke te behaal na die SDC-ope. Sy landgenoot Martin Vorster was tweede en die Australiër Danny List derde. Van Tonder sê dis lekker om die gevolge van sy harde werk te sien:
En nog gholf: Die viermalige Major-kampioen, Rory McIlroy, het sy PGA-seisoen op ‘n wen-noot afgeskop met ʼn oorwinning met twee houe op die AT&T Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië. Die Noord-Ierse speler het met ses onder 66 geëindig om op 21 onder baansyfer sy 27ste sege op die PGA-toernooi te behaal. Shane Lowry van Ierland is tweede en Justin Rose van Engeland en die Amerikaner Lucas Glover saam derde. McIlroy sê ʼn oorwinning op een van gholf se katedrale is spesiaal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….