Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met krieket: Die Proteas is bekommerd oor die fiksheid van die middelorde-kolwer David Miller voor die Kampioenetrofee-toernooi. Paarl Royals se kaptein het sy lies seergemaak tydens veldwerk in Maandag se SA20-wedstryd teen Durban’s Super Giants en het nie gekolf nie. Miller het agterna gesê sy regterlies voel ‘n bietjie styf, maar hy glo nie dis ernstig nie. Dit volg op Anrich Nortjé se onttrekking aan die Kampioenetrofee, terwyl daar ook twyfel is oor Lungi Ngidi se fiksheid. Die toernooi begin op 19 Februarie in Pakistan.
In Centurion het Pretoria Capitals ‘n bonuspunt-oorwinning met ses paaltjies oor Joburg Super Kings behaal en hoop om steeds die SA20 se uitspeelronde te haal. Migael Pretorius het drie paaltjies platgetrek en Super Kings is beperk tot 99 vir nege. Capitals het die teiken gehaal met agt boulbeurte oor. Die voorste vier spanne kwalifiseer vir die uitspeelronde en Capitals is net een punt agter Super Kings, wat vierde is. Super Kings se kaptein, Faf du Plessis, sê hulle kan steeds die uitspeelronde haal:
# Ons maak ‘n draai by rugby: Die tweeling, Tom en Ben Curry, speel Saterdag die eerste keer saam vir Engeland in hul aanvangswedstryd in die Sesnasies teen Ierland in Dublin. Die 26-jarige broers speel albei vir Sale Sharks en sal die flanke weerskante van nommer agt, Ben Earl, wees. Tom Curry dra die nommer ses-trui. Cadan Murley maak sy buiging op linkervleuel. Alex Mitchell het van ‘n besering herstel en begin op skrumskakel, met Marcus Smith op losskakel. Maro Itoje sal Engeland die eerste keer aanvoer.
# Vervolgens, sokker: Pep Guardiola sê Manchester City is gereed vir die uitdaging in vandag se Kampioeneliga-wedstryd teen Klub Brugge wat hy moet wen, en glo hulle kan die uitklopronde haal. Die Premierliga-kampioen moet verlede seisoen se Belgiese liga-wenner op die Etihad klop om die uitspeelronde te haal waaraan die spanne deelneem wat negende tot 24ste eindig in die ligafase. Die voorste agt spanne kwalifiseer outomaties vir die ronde van 16 wat in Maart gespeel word.
# Ons sluit af met gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, sê hy is opgewonde om weer aan ‘n toernooi deel te neem, want dis frustrerend om nie te kan speel nie. Die Amerikaner het sy regterhand seergemaak toe hy gehelp het om Kersete voor te berei, en moes geopereer word. Hy en Rory McIlroy maak hierdie week hulle eerste verskyning in ʼn PGA-toernooi vanjaar as deel van ʼn sterbelaaide groep in die AT&T Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië. Scheffler sê hy geniet die Pebble Beach-baan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….