Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is eerste aan die beurt: Die Joburg Super Kings het ‘n oortuigende bonuspunt-oorwinning van nege paaltjies oor die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, behaal in die SA20 op die Wanderers. Snelboulers Lutho Sipamla en Hardus Viljoen het die Sunrisers se kolforde verpletter en die besoekers help uitboul vir 118. Devon Conway het daarna ʼn onoorwonne 76 aangeteken toe hy die Super Kings na ʼn oorwinning gelei het met 36 balle oor. Die Super Kings se kaptein, Faf du Plessis, was vol lof vir Sipamla:
# Rugby is vandag volgende: Die Springbok-sewes het op die laaste dag van die Perth-sewes 14-7 teen Spanje verloor in die uitspeelwedstryd om derde plek. Die gasheer, Australië, het die Blitsbokke in die halfeind ‘n plek in die eindstryd gekos met ‘n oorwinning in bykomende tyd, waarna Spanje die Blitsbokke getroef het. Argentinië het sy titel behou deur Australië in die eindstryd 41-5 te klop. Die Blitsbok-afrigter, Philip Snyman, sê die span se dissipline was swak:
# Vervolgens, gholf: Daniel van Tonder van Suid-Afrika het sy landgenoot, Altin van der Merwe, op die eerste uitspeel-putjie gewen en die SDC Ope-titel op die Zebula-gholflandgoed en -spa in Limpopo opgeraap. Van Tonder het die dag begin met sewe houe agter Van der Merwe, maar vyf-onder-baansyfer-67 aangeteken om die uitspeelronde te haal. Die Ier, Liam Nolan, was derde. Van Tonder sê elke oorwinning is spesiaal:
# Ons kom by tennis: Madison Keys het sewe posisies op die wêreldrangleer geklim tot sewende na haar eerste Grand Slam-titel in die Australiese Ope. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds eerste nadat sy in die eindstryd teen die Amerikaner verloor het. Iga Swiatek van Pole, die Amerikaner Coco Gauff en die Italianer Jasmine Paolini is in die volgende drie plekke. Elena Rybakina van Kazakstan het tot vyfde plek verbeter, gevolg deur die Amerikaner Jessica Pegula. Qinwen Zheng van China, die Amerikaner Emma Navarro en die Spanjaard Paula Badosa voltooi die top- tien.
Onder die mans het die Amerikaner Tommy Paul die grootste vordering gemaak op die jongste ATP-wêreld ranglys en die eerste keer in sy loopbaan die toptien gehaal. Die 27-jarige, wat die Australiese Ope se kwarteindronde gehaal het, het twee plekke opgeskuif tot negende. Die Italianer Jannik Sinner, wat gister sy tweede agtereenvolgende Australiese Ope-titel gewen het, is steeds nommer een. Alexander Zverev van Duitsland, wat in die eindstryd in Melbourne teen Sinner verloor het, is tweede en Carlos Alcaraz van Spanje derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….