Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Ronald Brown se drie in die doodsnikke het die Blitsbokke gered van ʼn rampspoedige begin in die sewestoernooi in Perth. Suid-Afrika het Amerika 24-19 geklop nadat hulle tot die laaste minuut 17-19 agter was. Ricardo Duarttee en Quewin Nortjé het vroeg gedruk vir die Blitsbokke, maar Impi Visser se geelkaart halfpad deur die eerste helfte was die keerpunt. Will Chevalier het twee keer gedruk en Amerika was rustyd 14-12 voor. Die Blitsbokke speel later vandag teen die gashere, Australië, en môreoggend teen Argentinië.
Vyftien-man-rugby: Die Haaie het ‘n paar spelers terugverwelkom terwyl ander beseer is voor môre se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Cardiff. Twee van Suid-Afrika se opwindendste spelers, Ethan Hooker en Jurenzo Julius, is die senterpaar. Vincent Tshituka is terug en voer die span aan terwyl Siya Kolisi ‘n verpligte Springbok-rusperiode geniet. Daar is ook ‘n welkome terugkeer vir die Bok-vleuel Makazole Mapimpi en sy nasionale spanmaat Jordan Hendrikse, wat op heelagter begin.
# Vervolgens, krieket: Paarl Royals het sy posisie boaan die SA20-punteleer verstewig deur Durban’s Super Giants met vyf paaltjies te klop op Kingsmead in Durban. Quinton de Kock het 43 behaal terwyl Mujeeb Ur Rahman twee paaltjies platgetrek het om die tuisspan tot 142 vir sewe te beperk. Rubin Hermann het daarna 44 bygedra en Mitchell van Buuren 41 om die besoekers na die teiken te neem met 15 balle oor. Royals se kaptein, David Miller, sê hy is tevrede met hulle prestasie:
# En laastens, tennis: Die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev, is deur na sy eerste eindstryd op die Australiese Ope nadat die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, in die halfeindronde weens ʼn besering moes onttrek. Die Duitser, wat sy eerste Grand Slam-titel wil wen, het die eerste stel gewen voordat die Serwiër moes tou opgooi. Zverev speel in die eindstryd teen die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, of Ben Shelton van Amerika. Zverev sê hy het baie geleer uit sy twee nederlae in Grand Slam-eindstryde:
Die 19de-gekeurde Amerikaner Madison Keys gaan intussen môre probeer om die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, te verhoed om haar vierde Grand Slam-titel in te palm wanneer hulle in die vroue-eindstryd speel. Sabalenka het gister onheilspellend goed vertoon toe sy die elfde-gekeurde Spanjaard Paula Badosa vermorsel het in die eerste halfeindstryd in Melbourne. Keys het daarenteen bloed gesweet voor sy die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek van Pole, kon verslaan in die tweede halfeindstryd op die Rod Laver-arena.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….