Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Paarl Royals is weer boaan die SA20-punteleer na hul derde agtereenvolgende oorwinning. Hulle het die Joburg Super Kings met ses paaltjies verslaan. Jonny Bairstow het 60 lopies aangeteken en Bjorn Fortuin het twee paaltjies platgetrek en die Super Kings is beperk tot 146 vir ses. Daarna het Mitchell van Buuren en kaptein David Muller ‘n vennootskap van 71 lopies om die vierde paaltjie opgestel om die wedstryd te beklink. Die Royals het die teiken bereik met vyf balle oor. Fortuin sê hulle is in ʼn goeie posisie met die uitspeelwedstryde wat naderkom:
# Vervolgens, rugby: Die gewese Wallabie-kaptein Michael Hooper sê hy is opgewonde om terug te keer na sy uittrede in Junie. Hy het onlangs onverwags aangekondig hy het ‘n kontrak geteken met Toyota Verblitz, wat afgerig word deur die gewese All Black-breier Steve Hansen. Die 33-jarige Hooper sal die res van die seisoen vir die Japanse span speel as plaasvervanger vir die beseerde Springbok-held Pieter-Steph du Toit. Hoofbestuurder Akimoto Goto glo Hooper sal jong Japanse talent inspireer. Die flank het 110 punte aangeteken in 125 toetse vir Australië tussen 2012 en 2023.
# Ons maak ‘n draai op die gholfbaan: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, weet nog nie of hy volgende week in hierdie seisoen se eerste toernooi, die Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië, gaan speel nie. Die Amerikaner se hand moes geopereer word nadat hy dit met ‘n gebreekte glas gesny het toe hy Kersete voorberei het. Hy het ook die Sentry-toernooi in Hawaii en die American Express in Kalifornië misgeloop. Scheffler sê hy herstel goed, maar gaan nie oorhaastig wees om by die toernooi aan te sluit nie.
# Ons sluit af met tennis: Jannik Sinner en Iga Swiatek is die Internasionale Tennisfederasie se wêreldkampioene vir 2024. Sinner, van Italië, is tans die voorste manspeler terwyl Aryna Sabalenka van Belarus vir Swiatek van Pole verbygesteek het op die vroue-ranglys. Sinner het verlede jaar in die Australiese Ope sy eerste Grand Slam-titel ingepalm en daarna ook die Amerikaanse Ope gewen. Swiatek het nog ‘n Franse Ope-titel gebuit om haar Grand Slam-telling na vyf te neem, en het ook Olimpiese brons gewen.
Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels het intussen bevestig hy gaan nie appelleer teen die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap se besluit in die verbode middel-saak teen Swiatek nie. Sy het verlede jaar ‘n skorsing van een maand uitgedien nadat sy positief getoets het vir ‘n verbode middel. Wada sê ‘n deeglike hersiening het bevind die speler het ‘n geloofwaardige verduideliking gehad wat die integriteitsagentskap aanvaar het. Wada het vroeër besluit om na die Hof vir Arbitrasie in Sport te appelleer in ‘n soorgelyke saak teen Sinner.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….