Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Krieket Suid-Afrika sê Gerald Coetzee kan steeds vir die komende Kampioenetrofee-toernooi gekies word en ‘n besluit hieroor sal in die eerste week van Februarie geneem word. Die snelbouler het aan die res van die huidige SA20-toernooi onttrek weens ʼn agterkniesening-besering. Hy sou Anrich Nortjé vervang wat weens ʼn besering nie aan die 50-boulbeurttoernooi in Pakistan kan deelneem nie. KSA sê die Proteas se mediese span sal Coetzee se herstel fyn dophou.
# Vervolgens, rugby: Bordeaux Bégles het die Haaie met 66-12 afgeransel in hul laaste Kampioenebeker-groepwedstryd in Frankryk. Die Haaie het ‘n voorsprong van 12 punte gehad voordat die tuisspan teruggeveg en rustyd 19-12 voorgeloop het. Damian Penaud het ‘n toernooi-rekord van ses drieë gedruk, en dit het Bordeaux gehelp het om die eerste plek in Groep 1 en ‘n tuisvoordeel in die ronde van 16 in April te verseker. Geen Suid-Afrikaanse span sal in die Kampioenebeker se laaste 16 speel nie, aangesien die Stormers en Bulle ook uit is.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het alle benoemdes en wenners van die provinsiale sporttoekennings gelukgewens. Die seremonie is in die Paarl gehou. Een van die wenners is die Springbok-rugbyspeler Manie Libbok, wat die Ministeriële Vermelding-prys ontvang het. Mackenzie sê die fietsryer Alan Hatherly is as sportman van die jaar gekroon en die potspel-wêreldkampioen, Tasneem Solomons, is die sportvrou van die jaar:
# Laastens, tennis: Die verdedigende kampioen en wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is deur na die kwarteindronde van die Australiese Ope. Die Italianer het in die hitte gesukkel en ʼn mediese verposing gevra voor hy Holger Rune van Denemarke in vier stelle verslaan het. Sinner speel volgende teen die Australiër Alex de Minaur of die Amerikaner Alex Michelsen. In die vroueafdeling het Madison Keys van Amerika Elena Rybakina van Kazakstan in drie stelle geklop. Sinner sê dit was ʼn moeilike wedstryd:
Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, verwag intussen môre ʼn taai stryd teen Carlos Alcaraz in die kwarteindronde. Die Serwiër is steeds op dreef vir ‘n rekord van 25 Grand Slam-titel ná sy vierde-ronde-sege oor die Tsjeg Jiri Lehecka. Alcaraz het deurgedring toe die Brit Jack Draper weens ʼn heupbesering onttrek het. Die Spanjaard het drie van sy sewe wedstryde teen Djokovic gewen. Djokovic sê hy sien uit na die kragmeting teen Alcaraz:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….